BlogsOpinion

Die Paastyd: waarvandaan en hoekom

Die oorsprong van Paasfees Paasfees se wortels lê so diep as die Pasga van die Ou Testament. Tydens die Pasga het die Israeliete hulle verlossing of bevryding uit Egipte feestelik gevier. Elke gesin moes ‘n jaaroud ram sonder enige liggaamsgebrek slag ter viering van hierdie eeuelange bevryding. In die Christelike viering van Paasfees neem die …

Die oorsprong van Paasfees

Paasfees se wortels lê so diep as die Pasga van die Ou Testament. Tydens die Pasga het die Israeliete hulle verlossing of bevryding uit Egipte feestelik gevier. Elke gesin moes ‘n jaaroud ram sonder enige liggaamsgebrek slag ter viering van hierdie eeuelange bevryding.

In die Christelike viering van Paasfees neem die lam sonder gebrek steeds ‘n belangrike plek in.

Jesus is die volmaakte Paaslam wat aan die kruis “geslag” of “geoffer” is om ons vry te maak van die sonde en die dood. Ons is nou nuwe mense wat anders lewe, en lewe bring waar ons gaan.

‘n Treffende lied waarna jy kan luister wat die verhaal mooi vertel is die lied, Kyk na die Lam, gesing deur Jan de Wet. Jy kan ook daarna luister op Youtube. Kyk by: https://www.youtube.com/watch?v=1tSMmz99ZVY

As Christene vier ons Pase. Hierdie fees strek oor 50 dae vanaf Paasfees, ook Paassondag of Opstandingsondag genoem, op 5 April tot Pinksterfees op 24 Mei. Paassondag of Paasfees is die hoogtepunt van Pase, asook die hoogtepunt van ons kerklike jaar.

Hoe word die datum van Paasfees bepaal?

Paasfees se datum is nie vas, soos byvoorbeeld Kersfees se datum nie, maar word deur die maankalender bepaal.

Die kerkvergadering in Nicea, in Klein Asië in die jaar 325 nC, het besluit Paasfees vind plaas op die eerste Sondag na volmaan en na 21 Maart, die dag- en nagewening.

Is die opstanding van Jesus nie ‘n bietjie dik vir ‘n daalder nie?

Kan logiese, rasionele mense nog glo dat iemand wat dood was, weer lewendig geword het? Dit maak vir ons as rasionele mense glad nie sin nie en dit hoef ook nie sin te maak nie.

Ek wonder of ons in ons rasionele era met sy geweldige klem op die rede, God nie van sy onbeskryflikheid, misterie en almag ontneem het nie.

‘n Kollega van my het op ‘n dag iets gesê wat my intens aangeraak het: God moet weer vir ons onverstaanbaar word. Hy moet weer die ewig, onbeskryflike God word.

‘n Teoloog met die naam Kara Powell het gesê: “It would indeed be terrifying to worship a God we could figure out”.

Ek breek nie my kop oor die detail van die opstanding nie. Ek glo dit. Die opstanding van Jesus is die hart van my geloof. As ek nie glo dat Jesus opgestaan het nie, dan trek ek ‘n streep deur alles wat die evangelie aanbied en ruk ek die hart van die evangelie uit.

As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud, en julle geloof ook sonder inhoud, skryf Paulus in sy brief aan die gemeente in Korinthe (1 Kor. 15:13).

As Christus nie opgewek is nie, kan ons maar ons al kerkgeboue se deure toemaak.

Ek kan gemaklik identifiseer met Maarten Luther wat gesê het: “Die opstanding is nie so vreemd as ons na die lente kyk nie”. Pase in die noordelike halfrond val natuurlik, anders as by ons, saam met die lente. Dit is asof die ganse natuur saam getuig van Jesus se opstanding.

As iemand meen dat iets so groot, ingrypend en radikaal soos die opstanding onmoontlik is, beweer daarmee dat God nie kan ingryp in sy wêreld nie.

Die professor en die priester

Uit die tyd van die kommunistiese Sowjetunie vertel Michael Green in The Day Death Died ‘n verhaal wat mooi aantoon watter belangrike rol die opstanding in die Oosters Ortodokse Christene se geloofslewe speel.

‘n Russiese professor, ‘n lid van die destydse Kommunistiese Party het een April oggend voor ‘n vol saal ‘n lesing gegee. Sy doel was om die idee dat Christus eeue gelede uit die dood opgestaan het, as belaglik en uiters naïef af te maak.

Dit was ‘n lang lesing, en toe hy gaan sit, het hy nie, soos gewoonlik, geleentheid vir vrae toegelaat nie. Hy was seker dat hy die gehoor van sy standpunt oortuig het.

Toe staan ‘n priester van die Russies Ortodokse kerk op en vra of hy kortliks op die lesing mag reageer. Ongeduldig en vererg stem die professor in. “Maar niks langer as vyf minute nie,” waarsku hy.

“‘Vyf sekondes sal genoeg wees,” antwoord die priester. Hy draai toe na die gehoor en gee die pragtige paasgroet van die Oosterse kerke” “Christos aneste.” Christus het opgestaan. En soos uit een mond kom die tradisionele antwoord uit die volgepakte saal: “Alethos aneste”, Hy het waarlik opgestaan.

Maak ‘n kruis

Maak ‘n kruis (50cm lank) uit harde karton of hout. Verf die een kant rooi en die ander kant wit. Sit die kruis op jou voordeur met die rooi kant na voor. Op Paassondag (5 April) draai jy die Kruis om sodat die wit kant voor is. Die rooi is simbolies van die offer aan die kruis, en die wit dui op die nuwe lewe. Dit sal mense fassineer en bied aan jou die geleentheid om oor jou geloof in die opgestane Jesus te praat.

Wat van paaseiers?

Paaseiers het ‘n baie lang geskiedenis en die gebruik het reeds voor die geboorte van Jesus begin. Eiers was nog altyd gesien as die simbool van ‘n nuwe begin of nuwe lewe. Soos wat die Christendom versprei en gegroei het, is die eier al meer gesien as ‘n teken van Jesus se opstanding uit die graf. Die gebruik om eiers van sjokolade te maak, het in die 19e eeu in Frankryk en Duitsland begin. Die eerste sjokolade eiers wat op groot skaal vervaardig is, was deur Cadbury’s in Engeland. Gebruik gerus ‘n hol (leë) paaseier om vir jou kind te leer dat die graf leeg was, soos wat die eier binne leeg is, en dat Jesus lewe.

Mag jy en jou geliefdes ‘n wonderlike Paasfees beleef!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button