BOSVELDPRAATJIES: Hou hande van monumente af
Nee, o vrek, jongeling Julius, nou soek jy en jou trawante vir iets wat kon gebly het. Laas toe die Boere moer gepluk het, het dit Koningin Victoria en haar trawante meer as drie jaar geneem om hulle in bedwang te kry. En as dit nie vir die derduisende vroue, kinders en andere was wat …

Nee, o vrek, jongeling Julius, nou soek jy en jou trawante vir iets wat kon gebly het. Laas toe die Boere moer gepluk het, het dit Koningin Victoria en haar trawante meer as drie jaar geneem om hulle in bedwang te kry. En as dit nie vir die derduisende vroue, kinders en andere was wat in hul konsentrasiekampe gesterf het nie, van jou voorgeslagte moontlik ingesluit, was daardie relletjie miskien nou nog aan die gang.
Daar is ‘n paar dinge wat ‘n wyse man uitlos en hierdie ou Oom wil dit graag met jou deel.
Jy los iemand se taal uit. Onthou jy nog Soweto 1976 waar die uiteindelike vonk in die kruitvat die afforseer van Afrikaans in die skole was? Die tradisioneel Afrikaanse universiteite koes juis reeds vir die vale net om darem minstens iets van hul Afrikaansheid te probeer behou.
Jy los iemand se godsdiens uit. My eie voorgeslagte voer ek terug na Frankryk teen die Switserse grens vanwaar hulle uiteindelik via Holland na die toendertydse verversingspos aan die Kaap weens hul geloof gevlug het. Die Franse Hugenote het na vele omswerwinge en baie dooies uiteindelik in 1688 aan die Kaap geland. Volgens nuwe navorsing in Engeland het my stamvader hulle met drie jaar vooruitgeloop – moontlik om eers die gebied te kom verken. Wanneer het jou eie voorsate die Limpopo oorgesteek?
En jy los sy kultuur uit. Kultuur is wat hom sy wortels gee, wat hom vertel wie hy is, waar hy vandaan kom en wat sy voorgeslagte deurgemaak het. Kultuur sluit myns insiens ook sy geskiedenis en alles wat daarmee saamhang, in.
Nou loop voeter julle met monumente wat deel is van Suid-Afrika se ineengeweefde geskiedenis. As julle daarmee klaar is, wat is volgende? Pleks dat julle self eie monumente oprig, wat hopelik verder terug kan reik as net 1994, breek julle af. Het jou volgelinge al daaraan gedink dat indien hulle ten volle aan die koloniale geskiedenis wil ontsnap, hulle feitlik alle strukture, terugreikend tot die Kasteel in Kaapstad, sal moet afbreek?
Politiek is ‘n nare ding. Dit laat ‘n mens jou redelikheid verloor en dan praat ek nie eers van waardes, normes, sedes en integriteit nie. Dit laat ‘n mens jou gewete op die altaar van gedienstigheid plaas en dit maak jou ‘n slaafse navolger van iemand wat baantjies vir boeties kan skep. Dit het ook die nare geneigdheid om allerhande ongure karakters na ‘n sterk leier toe aan te trek. Waar het die Hitler kultuur Duitsland gebring – by oorlog en ses miljoen vermoorde Jode? Die Zuma- kultuur is een van korrupsie en ongebreidelde selfverykking deur die aanhangers daarvan. Wat gaan die Malema-kultuur vir ons nalaat – afgebreekte monumente en wat nog?
Ek wil jou graag uitnooi om ‘n koppie koffie by my te kom drink wanneer jy weer by Mokopane verbyblits. Dan sal ek jou van my mense se geskiedenis vertel en jy kan my van joune vertel. Sien, Julius, dis net deur mekaar te leer ken en van elk ander se geskiedenis te leer – die mooi daarin, die hartseer daarin, maar ook die vergrype daarin – dat ons saam kan bou aan hierdie mooi land van ons.
In Sjina se geskiedenis was daar ‘n jong heerser wat alles wat ouer as hy was, laat vernietig het – alles, ook mense. Is dit wat julle wil bereik? Behoort die geskiedenis van hierdie land net aan een groep mense en begin dit eers in 1994?
Ongelukkig sal ek jou nie Johnny Walker Blue Label whisky kan aanbied nie. Daardie R2 200 per bottel is bietjie straf vir my. Terwyl ek nou daaraan dink, gaan julle whisky ook afsweer omdat dit ook ‘n koloniale klankie het? Ek troos my darem aan een ding. Sou jy ooit eendag president word, gaan jou skolastiese kwalifikasies (wat sê die koerante – standerd agt houtwerk?) darem minstens dubbel so hoog wees as die huidige beklëer se standerd vier. Vir wat dit werd is.
