Die toets vir nederigheid
‘n SLEGTE ervaring is om iemand te ontmoet wat hoogmoedig is. Die eerste indrukke laat nie goeie herinneringe met jou nie. Die interessante is dat hoogmoed die enigste siekte is wat almal siek maak; behalwe die een wat dit het. Die genot wat mense ervaar om ander verkeerd te bewys, om mense te domineer, af …
‘n SLEGTE ervaring is om iemand te ontmoet wat hoogmoedig is. Die eerste indrukke laat nie goeie herinneringe met jou nie. Die interessante is dat hoogmoed die enigste siekte is wat almal siek maak; behalwe die een wat dit het. Die genot wat mense ervaar om ander verkeerd te bewys, om mense te domineer, af te breek, in die rug te steek of mag te misbruik is genot wat verhoudinge, families en gemeenskappe uitmekaar ruk.
Nederigheid is egter die vrug van jou verhouding met God wat oorvloei na jou verhoudinge met mense en hulle kultuur. Daar is egter niks waarop ek kan roem wat my in enige opsig beter maak as die volgende persoon nie. Wat ons ontvang het, is totale genade uit die verhouding met God wat my afhanklikheid tot Hom bevestig. Ons fokus is op Hom en nie meer op myself en my alleenreg tot kennis, voorkeure, besluite en ruimte nie.
Ons samelewing smeek na lewens wat gerespekteer word. Respek vir mense omdat my verhouding met God oorgespoel het na die verhouding met jou. Die keuse om ruimte te maak vir mekaar plaas mekaar op die troon en dit laat die ander persoon belangrik voel. Mense is juis belangrik omdat elkeen die handewerk van God is. Ons elkeen het al foute gemaak, verkeerde keuses uitgeoefen en teleurstellings beleef. Ons elkeen kan egter net eerlik wees en getuig dat genade alleen genoeg is en was vir my. Hierdie genade wat ek ontvang het, het my geleentheid gegee om ander met nuwe oë in nederigheid te aanskou.
Nederigheid bied vir ons die geleentheid om goeie verhoudings te handhaaf en te bou. Dit is hier waar daar in ons land en gemeenskap die grootste seer lê. ‘n Gemeenskap waarbinne mense mekaar nie in nederigheid aankyk nie, maar vanuit elkeen se eie kennis, voorkeure, besluite en belangrikheid wil kasty.
Die toets vir nederigheid in die gemeenskap is juis wanneer ons eerlik moet wees hoe ons optree teenoor hulle waaruit jy niks kan wen nie. Die getuienis is duidelik dat daar baie moeite gedoen word met individue waaruit voordeel getrek kan word. Die persone waaruit voordeel getrek kan word, word in baie gevalle van ander weggehou omdat jou mag moontlik verloor kan word oor hom of haar. ‘n Verdere toets in die gemeenskap of nederigheid ‘n werklikheid is, is die toets of jy en ek jammer kan sê. Kan ons eerlik wees met onsself en ons eie foute raak sien of is dit net die maklikste om die vinger vir ander te wys. Die fout lê gewoonlik by die ander.
Suid-Afrika en die gemeenskap waarin ons leef, vra na mans en vroue wat ongekwalifiseerd in nederigheid leef tot ander. Die keuse om jammer te kan sê en te erken ek wou dalk meer uit jou gekry het as wat ek op geregtig is, is die getuienis dat ek en jy nie bekommerd is oor ons eie beeld nie. Die sukses van ons verhoudings is verseker wanneer dit nie vir ons gaan oor wie kry krediet in die verhouding nie. Die uitdaging vandag is om in nederigheid van die spieël ‘n venster te maak waardeur almal mag kyk en nie van die venster van genade ‘n spieël te maak waardeur niemand kan kyk nie.
