BlogsOpinion

Wortel van al die kwaad gesoek

MUNISIPALE en politieke woelinge, taxigeweld en onrus het ons eens rustige plattelandse dorpie sedert begin verlede jaar op sy rug gekeer en vir voorbladnuus gesorg wat die gemeenskap weekliks aan die praat en gis hou. Persvryheid, oftewel mediavryheid, maak dit moontlik om die gemeenskap ingelig te hou en word as ‘n belangrike deel van demokrasie …

MUNISIPALE en politieke woelinge, taxigeweld en onrus het ons eens rustige plattelandse dorpie sedert begin verlede jaar op sy rug gekeer en vir voorbladnuus gesorg wat die gemeenskap weekliks aan die praat en gis hou.

Persvryheid, oftewel mediavryheid, maak dit moontlik om die gemeenskap ingelig te hou en word as ‘n belangrike deel van demokrasie beskou. Of dit nou internasionale of plaaslike nuus is die media as kommunikator is onontbeerlik wanneer dit kom by die oordra van nuus. Hier op die dorp wil almal by ons weet wie is verantwoordelik vir die wortel van die kwaad wat ons mooi dorp in soveel harwar en ook hartseer dompel.

Blaai ek deur die ou koerante vang my oog beriggewing in Julie verlede jaar toe burgemeester Thalefi Mashamaite uit sy amp onthef is na ‘n forensies ouditverslag van die oudifirma, KPMG. In die verdoemende verslag word Mashamaite en van sy raadslede geimpliseer in die wanbesteding van miljoene rande. Kriminele vervolging is aanbeveel, maar tot op hede het niks gebeur nie en intussen het baie water in die see geloop.

William Mabuela het sy sit net behoorlik in die burgemeesterstoel gekry toe hy einde verlede jaar onttroon word deur Mashamaite en sy raadslede met die hulp van die polisie. Die munisipaliteit se hekke is oopgebreek, so ook die raadslede se kantoordeure. Die oorname het vir groot oproer en chaos gesorg. Van die munisipale werkers het hulle penne neergesit en maande lank buite voor die munisipaliteit en by die biblioteek bymekaargekom.

Die polisie het verskeie kere slaags geraak met die oproeriges en losgebrand met rubberkoeëls wat die gemoedere verder laat opvlam het. Politici soos Pravin Gordhan en die DA se Mmusi Maimane het hulle stemme kom dik maak, so ook die plaaslike sakekamer en die kerkleiers.

Peperduur regskoste is aangegaan en verskeie hofbevele is verkry waaraan nie gehoor gegee is nie. Die prominente rolspelers het lyfwagte gekry wat hul 24 uur ‘n dag oppas. Die inwoners is van basiese munisipale dienste ontneem soos water, terwyl vullis in die strate opgehoop het en die dorp se beeld ‘n erge knou toegedien is.

Met al die bakleiery en spanning het drie mense tot nou met hulle lewe geboet. Die koelbloedige skietdood van Piet Pale, stigterslid en voorsitter van die Mogalakwena Inwonersvereniging, in Julie verlede jaar naby sy huis het die gemeenskap geruk. Die skuldige (s) is nog nie opgespoor nie. Gideon Fatane is op 27 Maart voor sy huis in Fouriestraat doodgeskiet. Fatane, ‘n taxi-eienaar is gereeld opgemerk by die oproer voor die munisipaliteit en in die strate. Niemand is nog in hegtenis geneem vir hierdie sinnelose moord nie.

Mgidi, ‘n lid van die Mogalakwena Inwonersvereniging wat ook sy ontevredenheid oor die munisipale verwikkelinge duidelik gemaak het tydens die chaos by die munisipaliteit, is op 4 April helder oordag by die Caltex garage op die hoek van Thabo Mbeki- en Nelson Mandelastraat doodgeskiet. Vandag (Vrydag) gaan drie verdagtes, almal welgestelde taxi-eienaars, in die landdroshof hoor of hulle op borg vrygelaat gaan word, al dan nie. So onnodig en hartseer om gesinne te sien wat nou sonder hul broodwinner, eggenoot en pa moet voortgaan.

Die gemeenskap van Mahwereleng aan die buitewyke van die dorp, is in opstand. Emosies loop hoog en die spanning is bykans tasbaar toe talle inwoners verlede week voor die hof hul misnoë te kenne gegee het met die dood van Mgidi.

Hier by Bosveld gons my en joernalis, Jolandi Fourie, se fone sedert die naweek met boodskappe en waarskuwings teen taxigeweld wat na die hele gemeenskap gaan oorspoel na die dood van Fatane en Mgidi.

Ek kry selfs laatnag boodskappe dat alle paaie afgesper gaan word en geen vervoer vandeesweek in die dorp of na buite beskikbaar sal wees nie. Daar is ook boodskappe dat bevestiging ontvang is dat die polisie van buurdorpe ingeroep is, as versterking. Selfs uit Polokwane het ons kantoor oproepe ontvang om te hoor of als nog wel is en of die skole oop is want daar is gerugte dat “die boere onder vuur is”. Van die ouers het nie hul kinders Maandag skool toe gestuur nie.

Kyk so van stories met stertjies en opsweep het ons hier op kantoor lanklaas van gehoor. Lees ‘n mens al die nuus, brokkies en kommentare op die sosiale media is Mokopane ‘n oorlogsone en moet ons almal koes vir die koeëls. Dit laat ‘n mens met verbystering besef hoe vinnig die mensdom homself kan laat beïnvloed, emosies kan opvlam en ook hoe maklik inligting verdraai kan word.

Wat die uiteinde van die onmin op die dorp gaan wees, weet niemand, maar dat die inwoners graag weer vrede en veral vooruitgang wil sien, is nie altemit nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button