DIE stigter van die TOMS Shoes groep, Blake Mycoskie het in 2006 ‘n maatskappy gestig wat skoene vervaardig.
Dis seker nie nuus wat ‘n aardskudding sal veroorsaak nie, maar wat hy wel doen is, om vir elke paar skoene wat hy verkoop, een paar skoene te gee aan ‘n hulpbehoewende kind iewers in die wêreld.
Só het hy vanjaar reeds meer as tien miljoen paar skoene gegee aan minderbevoorregte kinders. Sy aanvanklike doel was om nuwe skoene aan sowat 250 Argentynse kinders te verskaf.
Wat meer is: in 2011 het hy die TOMS Eyewear maatskappy gestig.
Vir elke paar brilrame of sonbrille wat verkoop word, gee hy sig aan een persoon in ‘n ontwikkelende land deur die nodige mediese behandeling, voorgeskrewe bril of operasie te befonds. So gee hy die geleentheid vir elke kliënt om, deur ‘n produk te koop wat hy in elk geval sou of moes koop, ook goed te doen en ‘n verskil te maak in iemand se lewe. Mycoskie het dit die “koop een gee een” model genoem toe hy met die skoene begin het.
Tans het hy ook die TOMS Roasting Co begin: ‘n maatskappy met koffiekroëe en ‘n aanlyn-koffiekoopfasiliteit. Vir elke sak koffie wat hy verkoop, word water vir een week (140 liter) voorsien aan ‘n persoon in ‘n land wat waterskaarste het in vennootskap met die organisasie Water for People. Mycoskie beoog nou om elke jaar ‘n nuwe “Een vir een” (koop een gee een) maatskappy te stig, en het onder andere die gasvryheidsbedryf, onderwys, vervoer en bankwese in die oog met sy idees.
Sy lewensfilosofie gaan daaroor om ‘n inkomste te maak, maar ook iets te doen wat ‘n verskil maak in ander se lewens.
Wat ‘n wonderlike man, wat ‘n wonderlike filosofie! Elkeen van ons kan seker nie ‘n Mycoskie wees nie, maar kan seker op een of ander manier ‘n verskil maak, al is dit op klein skaal.
Pietersburg Maatskaplike Dienste vra dat jy een dag kaalvoet sal loop en ‘n paar kinderskoene (skool- of winterskoene) sal skenk vir hulle Winter Warm projek.
Ek moet vir my ‘n paar swart winterskoene koop. Maar ek sal ook ‘n paar kinderskoene koop, om op my manier ‘n klein verskil te maak in iemand se lewe.
Wil jy nie ook nie?
