SIT jy die televisie aan, sien jy dikwels niks meer as geweld, moord, verkragting en allerhande ander negatiewe gebeure nie. Selfs kinderprogramme is vol geweld. Die radio se nuusberigte is ook vol optogte en ander mensgemaakte rampe. Hoe bly ‘n mens positief in ‘n wêreld vol negatiwiteit?
Jy kan nie alle vorme van media vermy nie, ongelukkig is negatiewe gebeure gewoonlik meer nuuswaardig as die positiewe.
Daar is verskeie maniere om positief te bly. Onder andere kan jy begin deur jou blootstelling aan negatiewe aspekte in jou lewe te verminder. Dit is nie maklik nie, inteendeel is dit baie moeilik. Ek persoonlik vermy televisienuus heeltemal. Ek lees eerder koerant waar ek meer beheer het oor wat ek inneem, miskien is ek bietjie soos ‘n volstruis met sy kop in die sand, maar dit werk sover vir my!
‘n Tweede aspek wat help is om negatiewe mense uit jou lewe te sny, hierdie mense put jou emosioneel uit. ‘n Negatiewe persoon het ‘n baie sterker invloed op jou as wat jy besef.
Luister na musiek, maak positiewe musiek deel van jou daaglikse roetine, luister daarna in jou voertuig, jou huis of jou kantoor.
Raak meer bewus van die natuur om jou, die voëltjies wat sing, blomme in die tuin, enige iets kan jou positief laat voel. Beoefen ook dankbaarheid, wees dankbaar vir wat jy het, al is dit nie die beste nie. Bid gereeld, soek daagliks iets om vir God oor dankie te sê.
Jy kan jouself besig hou met positiewe leeswerk of onderhoude, mense kan jou inspireer om jouself te verbeter. Deel drukkies uit, drukkies laat jou stresvlakke aansienlik daal, so volgende keer wanneer die gier jou tref om iemand te druk, doen dit!
Sit so af en toe jou selfoon of kommunikasiemiddels af, vergeet bietjie vir ‘n ruk van tegnologie en wat op die sosiale netwerke aan die gebeur is. Lag meer, vind die humor in alles, voel vry om soms te lag tot die trane rol.
Spandeer meer tyd saam diere, daar is min dinge lekkerder as ‘n stert wat opgewonde waai of ‘n nat soentjie, ‘n kat wat liefdevol kom skuur of ‘n pappegaai wat prettige sêgoed kwytraak.
Persoonlik dink ek tog dat positiewe denke berge kan versit. Dis onnodig om negetief te raak as gevolg van situasies buite jou beheer, so bly positief in ‘n negatiewe wêreld!
