BlogsOpinion

KATROLKOORS: die regte aas, maar hulle byt nie?

By die dam aangekom met my nuwe spinnerbait (soos laasweek aanbeveel) was dit toe nie so maklik nie - hoekom nie?

By die dam aangekom met my nuwe spinnerbait (soos laasweek aanbeveel) was dit toe nie so maklik nie – hoekom nie?

Wel, behalwe vir die regte toerusting en gerei is daar ook ander faktore wat swartbaarhengel beïnvloed. Die geleerdes praat van interne en eksterne faktore wat verwys na faktore binne en buite die water.

Binne die water is daar sekere dinge soos watertemperatuur wat veral hierdie tyd van die jaar ‘n belangrike invloed op visgedrag het. Dink daaraan; ek sê vir jou buite by jou voorhek lê ‘n stukkie kougom. Gaan jy die moeite doen om op te staan, alles oop te sluit en die happie te gaan haal? Dankie maar nee dankie – nie ek nie. Maar wat van ek sê vir jou daar lê ‘n heerlike vars gebakte twee-laag sjokolade koek met gekookte kondensmelk versier – net vir jou; óf ‘n regte egte outydse melktert. Nou het jy my aandag!

Wel, vir ‘n lui, koud-bloedige struikrower soos ‘n swartbaar, moet die aanbieding ook die ‘moeite werd wees’, anders gaan jy daar staan tot koeie huis toe kom. Nou is dit ook belangrik dat die aas op die regte plek aangebied moet word.

Anders as in die somer wanneer swartbaars struktuur-geörienteerd is, is hulle in die winter op soek na stabiele watertemperatuur en voedsel wat gerieflik naby is. Dit vind hulle in die diepste dele van die dam, veral as daar groterige klippe is wat alle vis soos magnete aantrek. Gebruik nou weer daardie spinnerbait en teiken die klippe van alle kante en alle dieptes – onthou die geheim lê in stadige aanbiedings.

Indien jy jou volgende aas wil aanskaf sal ‘n jerkbait die regte ding wees. Dit is ‘n slanke hardeplastiekkunsaasvissie met drie-angel hoeke. Die waterhelderheid (nog ‘n interne faktor) gaan die keuse van jou kunsaas se kleur bepaal. Gebruik natuurlike kleure in helderskoon water en bring die aas in met kort ruk en pluk bewegings om ‘n beseerde klein vissie na te boots. Indien die water troebel is (jy kan nie verder as 30cm in die water sien nie), moet die aas met ‘n konstante tempo ingebring word, sodat die vis die aas kan ‘hoor’ en op hom afpeil. (Sien voor verlede week se wenk omtrent die hantering van drie-angelhoeke).

Ander interne faktore wat ook ‘n rol speel is waterbesoedeling, struktuur, wegkruipplekke, voedselbronne en dalende watervlak – veral in die winter.

Volgende week kyk ons na nog belangrike faktore wat swartbaarhengel kan beïnvloed.

Wenk van die week:

Swartbaars vreet minder gereeld as gevolg van hulle verlaagde metabolisme maar hulle moet nogsteeds vreet. Hoe kouer die water is, hoe stadiger moet jy hengel – dit kan nie genoeg beklemtoon word nie!

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

KATROLKKORS: Die regte kunsaas vir swartbaars

KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’

KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing

KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button