KATROLKOORS: Troebel waters, onder draai die swartbaars rond
ONS het reeds na twee belangrike interne faktore gekyk wat swartbaarhengel beïnvloed; naamlik watertemperatuur en die water se suurstofinhoud. Nog 'n uiters belangrike faktor is waterhelderheid. Hierdie faktor bepaal die keuse van aas, aasgrootte, kleur, aanbieding, asook waar die hengelaar vis gaan soek.

ONS het reeds na twee belangrike interne faktore gekyk wat swartbaarhengel beïnvloed; naamlik watertemperatuur en die water se suurstofinhoud. Nog ‘n uiters belangrike faktor is waterhelderheid. Hierdie faktor bepaal die keuse van aas, aasgrootte, kleur, aanbieding, asook waar die hengelaar vis gaan soek.
Met waterhelderheid verwys ek na hoe diep die hengelaar in die water kan sien. Sommige damme se water is vir etlike meters glashelder, terwyl ander damme se water troebel is. Damme waarin karpe voorkom is altyd troebel – die manier hoe karpe wei maak damme troebel.
Water word gereken as troebel wanneer die hengelaar nie verder as ±30cm in die water kan sien nie en hierdie scenario verg ‘n totale ander hengelbenadering as helder water.
Albei helder- en troebelwater het dus hulle eie voor- en nadele.
Hierdie tyd van die jaar is meeste van ons swartbaarsdamme helder. Daar is nie reën wat nuwe water laat invloei nie en watergras in die damme werk soos groot filters wat die water skoon hou. Gepolariseerde sonbrille help geweldig om die weerkaatsing op die wateroppervlak te breek en stel die hengelaar in staat om in die water in te sien. Die nadeel is; nog voordat jy die vis sien het hy jou al lankal gewaar en is hy op sy hoede, óf weg.
In helder water maak swartbaars gebruik van sig wanneer hulle jag en is dit belangrik dat die hengelaar ver en akkuraat kan gooi. Die kunsaas moet ‘n
natuurlike kleur hê en die beste is om te sien hoe die vissies lyk waarop die swartbaars leef en hulle kleur asook grootte na te boots. Die kunsaas moet met ‘n ruk-en-pluk beweging ingebring word wat ‘n sieklike vissie naboots – ‘n maklike prooi. Hou in gedagte dat die swartbaar aan die skadukant van wegkruipplekke gaan lê en die hengelaar moet dus verby die teikenarea gooi en die kunsaas deur die skaduwee óf naby wegkruipplekke inbring.
Indien die kunsaas op die teikenarea val, sal die vis skrik.
Wanneer met harde plastiekkunsvissies gehengel word, is die beste stok om te gebruik ‘n medium-swaar aksie stok en monofilament vislyn wat toegee wanneer die vis die aas gryp.
In troebel water word groter kunsaas wat meer lawaaierig is gebruik. Dit is kunsaas soos spinnerbaits met groot Colorado-lemme, groter harde plastiekvissies wat geraas maak, óf sagte plastiekwurms met groot sterte wat sterk vibrasies uitstuur.
Anders as in helder water moet die kunsaas stadig teen ‘n konstante spoed ingebring word sodat die vis kans kan kry om op die vibrasies te fokus. In troebel water is ‘n swartbaar se sig beperk en maak hy gebruik van sy laterale lyn op die kant van sy lyf om vibrasies op te tel.
Die probleem met troebel water is dat die vis enige plek kan wees en sonder ‘n elektroniese visvinder gaan dit maar sukkel.
Al die wegkruipplekke lê versteek onder die water en die hengelaar moet die hengelarea voor hom fynkam, van links na regs, en herhaaldelik in dieselfde area gooi.
Persoonlik sal ek ‘n sewe-voet-ses, swaar-aksie stok met 17lb fluorocarbon vislyn gebruik om donkerkleurige sagte plastiekwurms aan ‘n Texas-strop te hengel.
Volgende week kyk ons na nog ‘n belangrike faktor wat swartbaarhengel kan beïnvloed.
Wenk van die week:
Die beste tyd vir helderwaterhengel is vroegoggend, laatmiddag en selfs in die aand wanneer die skaduwees lank is.
Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.
KATROLKOORS: Visse moet ook asemhaal
KATROLKOORS: die regte aas, maar hulle byt nie?
KATROLKKORS: Die regte kunsaas vir swartbaars
KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’
KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing
KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars
KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars
KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

