BlogsOpinion

Katrolkoors: Regte vislyn, tegniek

EK het nou al heelwat inligting gedeel omtrent die kuns van swartbaarhengel maar behandel hier die jongste vraag van 'n leser: "Wat is die tegniek om die groot menere uit te trek?"

EK het nou al heelwat inligting gedeel omtrent die kuns van swartbaarhengel maar behandel hier die jongste vraag van ‘n leser: “Wat is die tegniek om die groot menere uit te trek?”

Ek onthou hoe ek my eerste swartbaarhengeluitstappie my gefrustreer het. Ek en my skoonpa het die grootbekke buite Nelspruit aangepak. My skoonpa het dit so maklik laat lyk, maar dit was nie net ‘n kwessie van ingooi en katrol nie.

Ons het albei presies dieselfde kunsaas aangehad en op dieselfde plekke gegooi, maar ek kon net nie ‘n vis gevang kry nie. Iets het ontbreek – tegniek!

Tegniek verskil in die twee hengelgroepe, naamlik hengel in helder water en hengel in troebel water. In helder water gebruik swartbaars sig om te jag en gebruik hengelaars kleiner, meer natuurlike kleur kunsaas. Die aas word verby die teikengebied gegooi en met kort plukkies (‘n gewrigaksie) ingebring. Die aas moet nie met vreeslike dramatiese bewegings swem nie.

Die doel is om ‘n gewonde vissie óf een wat besig is om te vrek, na te boots. Sulke vissies swem gewoonlik met kort rukkerige/skietbewegings. Ek beweeg letterlik net my stok se punt met kort plukkies.

Moet tog net nie in ‘n ritme verval nie! Ek onthou ‘n ander keer waar ek en my swaer gaan hengel het en in daardie stadium het ‘n liedjie met so lekker doef-doef ritme in my kop gemaal.

Dit het vir my na die ideale hengeltempo geklink maar ‘n gewonde vissie wat teen dieselfde “doef-doef” ritme swem, lyk onnatuurlik en swartbaars is nie dom nie…

Wanneer die water troebel is – dit is wanneer jy nie verder as ±30 cm diep in die water kan sien nie – word die aas teen ‘n konstante tempo ingebring. Nou maak die vis nie meer gebruik van sig nie maar van gehoor. Die swart lyn op die vis se sye, bekend as laterale lyne, help met die opvang van vibrasies. In sulke toestande moet hengelaars stadiger hengel en met groter kunsaas om meer vibrasies uit te stuur.

Gooi meer as een keer op dieselfde plek en werk die hele gebied goed deur want al die wegkruipplekke is vir die hengelaar nou onsigbaar. Dit gee die vis geleentheid om op die vibrasies in te zoem.

Die vis kan die aas op verskeie maniere vat, maar die lekkerste deel van hengel is daardie aanvanklike tik op die lyn. Soms vat die vis die aas met mening en voel dit asof die stok uit jou hand geruk gaan word. Ander kere is daar ‘n ligte stamp aan die lyn óf die lyn trek eenvoudig styf; beweeg in ‘n ander rigting en soms voel dit asof jy vassit.

Groot visse gryp die aas en hou dit vas. Indien dit voel asof die aas vassit, moet die stok opgetel en die lyn styf getrek word. Indien die aas werklik vassit sal dit ‘n dooie stop wees, maar indien dit ‘n vis is wat die aas vashou, sal jy die vis kan voel. In ieder geval – kap vas – dit kos niks nie.

Ander kere byt die visse so skelm dat jy nie eens bewus was van die byt nie – daarom beveel ek graag aan: hengel met sentiewe fluorocarbon-lyn. Ek onthou hoe ek eendag in helder water die vis gesien en my aas na hom gegooi het. Ek kon sien hoe hy die aas gryp en dadelik uitspoeg, sonder dat ek die byt gevoel het. Daar is selfs ‘n onderwatervideo waarin groot visse ‘n hele kunsaas vol drie-angelhoeke gryp en uitspoeg sonder dat die hengelaar daarvan bewus was!

Wenk van die week:

Sorg altyd dat jou hoeke vlymskerp is want selfs nuwe hoeke kan stomp wees. Toets die skerpte van die hoek deur die hoek se punt op jou duimnael te druk. As die hoek gly, is hy stomp – as hy vassteek is hy werklik skerp.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button