BlogsOpinion

KATROLKOORS: Die top 5 kunsase

Verlede week het ons gekyk na die tegniek hoe om kunsaas in helder- en troebelwater aan te bied.

Verlede week het ons gekyk na die tegniek hoe om kunsaas in helder- en troebelwater aan te bied. Die probleem is egter dat daar omtrent ‘n weeshuis vol verskillende kunsase op die mark beskikbaar is en dat dit feitlik onmoontlik is om elkeen te bespreek.

Ek het gedink om eerder te konsentreer op my “top vyf”. Maar asseblief, let wel, dit is my eie persoonlike keuse en NIE die Alfa en Omega van kunsaas nie. Dit is die aas waarin ek genoegsame vertroue het om enige dam, enige plek, enige tyd te hengel en hopelik ‘n vis te land. Maar dit het al gebeur dat ek by damme kom en die hengelaars stof in my oë skop met kunsaas wat ek ook het, maar dit lê veilig by die huis.

Oor die algemeen kan kunsaas vir swartbaarhengel in die volgende hoofgroepe verdeel word naamlik: sagte plastiek, harde plastiek, draad-ase en loodkoppe.

In my hengelsak bestaan die grootste hoeveelheid van my kunsaas uit sagte plastiekaas want dit is goedkoper as die ander groepe en dieselfde kunsaas kan ook op ‘n verskeidenheid van stroppe gebruik word, afhangende van die omstandighede waarin ek hengel.

Soos voorheen genoem; swartbaars is te vinde in al daardie vashaakplekke waar meeste hengelaars nie graag wil hengel nie en vir sulke digte struktuur gebruik ek ‘n sewe-voet-ses, swaar-aksie stok wat geskik is om met sagte plastiese kunsaaswurms te hengel. Daarby ‘n hoë spoed katrol gelaai met 17lb fluorocarbon lyn.

My top vyf sagte plastiekase is; en glad nie in orde van voorkeur nie:

1. Mr Jumbo Grub. Hierdie aas kan op enige plek, enige diepte gebruik word. Soms is die stertjie wat vibreer net genoeg om enige viste oortuig dat dit iets is wat moet vrek.

2. Super Fluke. Dit is een van die mees algemeenste kunsase wat swartbaarhengelaars het en waarop baie vis gevang word. Die effektiefste manier is om die aas gewigloos te hengel met die dunste lyn moontlik.

3. Senko. Dit lyk na niks – soos ‘n sigaar maar op die regte tyd en plek is dit soms al wat werk. Dan soek die vis nie fieterjasies nie.

4. Brush Hog. Dit lyk soos ‘n akkedis van ‘n ding en naby klippe / bome waar die akkedisse gewoonlik lê en bak verloor party vanhulle, hulle greep en val in die water.

5. Horny Toad.

Vir hierdie aas het jy ‘n ekstra sterk stok en baie dik lyn nodig – 65 lb gevlegde lyn en groot hoeke.

Wanneer jy paddas hoor óf gewaar word hierdie aas naby gras en lelies gehengel. Hou vas – die kans is goed dat jou lyn gaan breek!

Al bogenoemde ase kom in verskeie groottes, kleure en handelsname voor.

Sommige se plastiek is sagter as ander en party het meer sout in as die res. Ek hou van ‘n sagte plastiek want die vis hou die aas vir ‘n oomblik langer vas om vir my genoeg tyd te gee, om te reageer.

Die sout is daar om die aas gewig te gee en help ook dat die vis langer vashou aan die aas.

Wanneer dit kom by die keuse van kunsaas-kleure is daar drie kleure waarmee enige hengelaar kan begin, naamlik:

1. Junebug

2. Watermelon Seed en

3. Green Pumpkin

Volgende week kyk ons na wanneer gebruik ons watter kleur.

Wenk van die week:

Die groot geheim van swartbaarhengel is – hengel met selfvertroue.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button