
Die afgelope twee weke het ons gekyk na die tegniek hoe om kunsaas terug te bring en ek het my lys van top vyf sagte plastiese ase met die lesers gedeel.
Soos gesê, wanneer ‘n hengelaar by ‘n hengelwinkel instap word hy skoon oorweldig deur die hoeveelheid kleure waarin kunsaas deesdae beskikbaar is en ‘n mens wonder: “nou waar begin ek?”
My voorstel is om een soort kunsaas te kry, byvoorbeeld ‘n Super Fluke en koop daarvan net drie kleure, naamlik Junebug, Watermelon Seed en Green Pumpkin.
Sodra jy die Super Fluke bemeester het en weet wanneer werk watter kleur, kan jy jou kleurereeks uitbrei óf jy kan die volgende soort aas aanskaf.
Ongelukkig is daar hengelaars wie almal wil beïndruk met die hoeveelheid kunsaas wat hulle besit, maar hulle het self nie ‘n idee van wanneer gebruik jy wat en hoe nie.
Wanneer ek by ‘n dam opdaag is die eerste ding waarna ek oplet, die water se kleur. Is die water helder en skoon of troebel en hoe lyk die bodem en is daar waterplante en klippe? Watter tyd van die dag dit is en die weersomstandighede soos of daar wind is, speel ook ‘n rol.
Dit als vasgestel: wanneer gebruik ek watter kleur? Om mee te begin – visse lees nie boeke nie en wat almal skryf en praat weet die visse niks van nie – hulle volg hulle eie kop. Maar teoreties (dit is nou volgens die Amerikaners) gebruik mens donker kleure wanneer daar lae lig intensiteit is. Dit is tye soos vroegoggend, laatmiddag, wanneer dit bewolk is óf wanneer die water troebel is.
Helder kleurige aas word weer gebruik in helder water op wolklose sonskyndae. Maar ek het gevind my nommer een keuse by sagte plastiekaas is Junebug. Dit is ‘n donkerpers kleur en werk meeste van die tye, enige tyd en enige plek. Dit sal ook die eerste kleur wees wat ekself aanskaf.
Die tweede kleur wat hengelaars met ‘n geruste hart kan aanskaf is Watermelon Seed. Dit is ‘n amper deurskynende groenkleurige aas met swart spikkels in. Hierdie kleur werk baie goed wanneer die water helder en daar groen slymerige plantmateriaal in die water is. Dit lyk amper of ‘n mens die aas nie in die water kan sien nie, maar dit werk, kan ek van getuig!
Die laaste basiese kleur is Green Pumpkin. Dit is ‘n bruingroen kleur wat ek gebruik in damme wat ‘n klipperige bodem het. Gewoonlik is daar krappe in die omgewing en die bruingroen kleur boots hierdie gediertes goed na.
Dit is ongelukkig so dat vele hengelaars sukses met een soort aas het, daarby vassteek en nie verder ontwikkel nie. Vir diegene sal ek aanbeveel om minstens hulle kleurreeks uit te brei.
Daar is wonderlike ander kleure wat net so goed werk soos swart of donkerder kleure, soos Watermelon Gold, Watermelon Candy, Chartreuse en selfs ook lawwe kleure soos Melkskommelpienk. Die probleem is egter dat swartbaars nie dom is nie en as almal met dieselfde kleur en aas hengel, word die visse gekondisioneer om nie te byt nie.
Kry dus ‘n kleur wat vir jou werk en hengel met selfvertroue daarmee.
Volgende week kyk ons na wat die regte manier is hoe om ‘n sagte plastiekaas aan die hoek te sit.
Wenk van die week:
Moet nooit jou verskillende kleure aas bymekaar gooi en bêre nie. Die aas gee kleur af en vlek mekaar.
*Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.
