Die maklikste aas om te gebruik wanneer dit kom by swartbaarhengel is sekerlik ‘n harde plastiese kunsvissie of beter bekend as ‘n crankbait.
Dit is maklik in die sin dat die hengelaar die aas bloot aanknoop, ingooi en terug bring. Sekerlik het baie ander hengelaars, soos ek, met hierdie tipe aas begin hengel.
Die vraag is egter: waarmee, wanneer en watter kleur? Koop jy die aas wat vir jou die mooiste lyk, die een wie die winkelier aanbeveel; of dalk daardie aas wat jy iewers in ‘n foto gesien het?
Ek meen dat meer hengelaars as visse met kunsaas gevang word, want alles lyk dan so mooi – selfs ek kry partykeer lus om daaraan te byt.
Harde plastiese kunsvissies kan in vier groepe verdeel word en daar is ‘n tyd en plek vir elkeen, naamlik oppervlakaas, medium runners, deep divers en liplose kunsaas. Iets wat hulle almal in gemeen het, is hulle drie-angelhoeke.
Oppervlakaas:
Soos die naam aandui dryf hierdie groep kunsaas op die water en boots iets na wat in die water geval het. Dit lyk na ‘n gespartel om uit te kom en vir ‘n opportunistiese swartbaar is dit ‘n geleentheid wat hy nie kan laat verbygaan nie. Dit is ‘n aas wat ek net in helder skoon water gebruik want die vis moet die aas vanuit die donker dieptes kan sien.
Van hierdie aas lyk soos ‘n groot sigaar, ander het skroewe (swaailemme) voor (en soms agter) en party het weer wye groot bekke wat poppers genoem word.
Die groottes en kleure verskil want elke handelsnaam beweer hulle het die “beste” aas op die mark.
Vir ons as hengelaars is die gehalte van die kunsaas belangrik en hiervan is die hoeke die belangrikste. Die hoeke moet baie skerp wees. Hulle moet nie te klein wees nie maar ook nie te groot om die swemaksie te beïnvloed nie.
Rakende die kleure hou ek van natuurlike kleure en my persoonlike gewildste kleur is Fire Tiger. Hou egter in gedagte dat die vis die aas van onder af beskou en die silhoeët is dus belangrik. In die aand werk swart kunsaas die beste.
Oppervlakaas kan enige tyd gebruik word maar is gewoonlik meer effektief vroegoggend, laat middag of wanneer dit bewolk is. Die voorvereiste is egter dat die wateroppervlak spieëlglad moet wees.
Sigaar-spoke:
Gooi die aas uit en verby die teikenarea. Wag dat die rimpels verdwyn en bring die aas in met kort plukkies naby en verby struktuur. Hierdie aas kan ook met nog ‘n tegniek bekend as walk the dog ingebring word. Die beste plek om dit te oefen is in ‘n swembad. Gooi die aas uit; katrol enige slaplyn in; gee die aas baie kort, skerp plukkies – dit is ‘n gewrigsaksie. Die aas sal zig-zag oor die water gly.
Aas met swaailemme:
Hierdie aas word soms teen ‘n geweldige spoed ingebring om die water te klits. Dit kan ook stadig met trek- en stopbewings gehengel word. Daar is nie ‘n reg en verkeerd nie behalwe dat hengelaars in een bepaalde groef kan vasval. Die groot ding is die aas se lemmetjies moet draai, raas en die vis se aandag trek. Eksperimenteer dus gerus met die aas en sien wat werk. Elke dam se vis het hulle eie voorsmake.
Poppers:
Met hierdie aas word baie stadig gehengel. Gooi die aas uit, wag vir die rimpels om te verdwyn en gee dan een kort plukkie. Die aas moet letterlik ‘n “plop” geluid maak. Laat lê die aas weer en herhaal die proses. Iewers gaan ‘n vis sy geduld verloor, nader swem en die die aas aanval.
Net soos met buzzbaits, moet selfbeheersing aan die dag gelê word wanneer ‘n vis die aas aanval. Wag ‘n paar tellings óf totdat jy voel die lyn trek styf en maak dan vas. Speel die vis weg van enige struktuur en wees versigtig wanneer die hoeke uit die vis se bek gehaal word. Indien die vis losruk kan die hoeke maklik in jou eie vingers vasslaan. Vat die vis stewig vas aan sy onderlip en gebruik ‘n skerpbektang om die hoeke uit die vis se bek te haal.
Wenk van die week:
Drie-angelhoeke raak maklik verstrengel – gebruik ‘n doelgemaakte gereikas waarin die aas gebêre kan word.
Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

