BlogsOpinion

KATROLKOORS: warm dae sorg dat visse vlakker swem

Vir diegene wat daarvan hou om buite te wees en veral om vis te vang, is dit nou die tyd om vlakwater te teiken.

Vir diegene wat daarvan hou om buite te wees en veral om vis te vang, is dit nou die tyd om vlakwater te teiken.

Swartbaars is roofvisse en maak jag op alles wat gevreet kan word; klein vissies, paddas, paddavissies, krappe, voëltjies, slange en selfs hul eie kleintjies.

Ons as hengelaars probeer hierdie roofvisse uitoorlê deur kunsaas te gebruik – nie dat lewendige aas soos erdwurms nie sal werk nie, maar nie almal hou daarvan om hulle hande vuil te maak nie.

Laasweek het ons gekyk na harde plastiekvissies, spesifiek na die verskillende groepe oppervlakte-aas wat hengelaars in spieëlgladde water kan gebruik.

Ek neem aan dat die meeste van die lesers vanaf die oewer moet hengel en nie almal die voorreg het om met bote uit te gaan nie.

In die lig daarvan is “vlaklopers” die volgende soort harde plastiekvissie wat hengelaars kan gebruik. Die vissies duik van net onder die oppervlakte tot ‘n diepte van drie meter; afhangende van sy lip.

Wanneer mens na die kunsvissies kyk, het hulle gewoonlik een of ander vorm van ‘n deursigtige lip (behalwe vir lip-lose kunsvissies – ‘n ander onderwerp vir ‘n ander dag).

Hierdie lip speel ‘n baie belangrike rol in die diepte wat die kunsvis kan bereik. Hoe korter die lip – hoe vlakker duik die vis. Ook indien die lip teen ‘n hoek van 90º aan die vis geheg is, sal die kunsvissie net-net onder die wateroppervlak skarrel.

Die dikte van die lip is gewoonlik ook ‘n goeie aanduiding van die kunsaas se kwaliteit. Goedkoop kunsaas het uitermatige dik lippe en is sommer rof afgewerk terwyl jou kwaliteit handelsname dun, goed afgewerkte lippe het. Van die duurder aas word ook elkeen met die hand getoets voordat dit verpak en verskeep word.

Dit is geweldig frustrerend om jou aas uit te gooi en hy kom met ‘n ompad terug geswem. Indien dit gebeur moet die ring op die vis se lip waaraan die lyn heg (versigtig) in die teenoorgestelde rigting waarheen die vissie swem, gebuig word. Dit behoort hom reg te stel maar as dit nie werk nie, haal sy hoeke af en gebruik die vis vir ‘n sleutelring.

Die kleur van die kunsaas sal afhang van die waterhelderheid. In helder skoon water gebruik ek kunsvissies wat baie natuurlik lyk, ‘n ligte swemaksie het en nie ‘n geraas maak nie. Bring die aas in met ‘n trek-stop swemaksie om ‘n siek vissie na te boots.

In troebel water gebruik ek weer groter aas wat sterk vibrasies deur die water kan stuur. Die aas word teen ‘n konstante tempo ingebring sodat die roofvis hom kan “hoor” en raakvat.

Ongeag van die waterhelderheid; gooi die aas uit teen ‘n hoek van 45º teen die oewer, verby die teken area en bring die aas in. Onthou om die aas aan die skadukant van die struktuur verby te bring. Hoe nader – hoe beter!

Die ideale stok om harde plastiekvissies mee te hengel is ‘n medium-swaar aksie stok wat bietjie meer toegee wanneer die vis die aas gryp. ‘n Te stywe stok sal die kunsvis uit die vis se bek skeur nog voordat die vis die aas behoorlik gevat het.

Gebruik ook co-polymer vislyn. Hierdie lyn is skaafbestand, het minder geheue en is dunner as monofilament. Dit is ‘n goeie lyn om in strukture te gebruik waar daar baie skaafplekke soos klippe en stompe is. Hierdie lyn sink stadig en is reg vir vlaklopers. Hoe dunner die lyn is, hoe dieper sal die aas duik en ook omgekeerd. Onthou ook om asseblief tog nie ‘n knip-spil (snap swivel) te gebruik nie. Dit beïnvloed die vissie se swemaksie negatief en maak hengelaars lui om hulle lyn en knope gereeld na te gaan vir enige swakplekke.

Wenk van die week: Om die regte grootte en kleur kunsaas te kies – kyk wat is die grootte en kleur van die kleiner vissies waarop die roofvis teer – in Engels; “match the hatch”.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button