BlogsOpinion

KATROLKOORS: Soms moet ‘n cowboy ‘n traan pik

Ons het die afgelope tyd gepraat oor hengel met harde plastiekvissies waarvan almal drie-angelhoeke het. Hoe skerper, hoe beter.

Party mense, veral mans, word grootgemaak met die “les’ dat cowboys don’t cry, maar daar is wel sekere tye wat jy om die hoek moet stap; jou rug draai en ‘n traan of twee pik.

Behalwe om die tandarts te besoek is een van die seerste seer sekerlik ‘n inspuiting tussen jou vingers óf tone.

Vir ons spesie – swartbaarhengelaars – is dit uiters belangrik om altyd versigtig te wees met ons hengelgerei anders kan dié soort seer /werklikheid word.

Ons het die afgelope tyd gepraat oor hengel met harde plastiekvissies waarvan almal drie-angelhoeke het. Hoe skerper, hoe beter.

Maar dit is nie altyd die vis wat gevang word nie.

Baie hengelaars se kunsaas raak verstrengel in die takke, bome, gras, klippe en so meer.

Dan is daar ook diegene wie dink dit is snaaks om kunsaas na klein voëls, slange, likkewane en krokodille te gooi.

Baie snaaks todat die dier die aas vat en verbouereerd raak.

Soos hulle sê: wie laaste lag, lag die lekkerste!

‘n Nog groter ergernis is sorgelose óf slordige hengelaars. Hulle het geen saak met wie of wat naby staan wanneer hulle kunsaas uitgooi nie.

Dit is ook nie vir hulle belangrik om aas dadelik te bêre wanneer dit vervang word nie. Kunsaas lê rond en as jy nie kyk waar jy trap nie, mag jy dalk net in so slagyster trap.

Ek het al hengelaars aan boord gehad wat net gooi en as jy weer sien, klap ‘n drie-angelhoek jou teen die rug óf jy het skielik ‘n oorbel wat jy nie wou hê nie. Hoe ook al… dit is blerrie seer.

Maar die ergste bly sekerlik wanneer jy jouself vang.

Dit is net soos motorfiets ry. Sodra jy “mak” raak, byt die yster jou.

Gewoonlik vang jy jouself met ‘n vishoek wanneer jou aandag afgelei word, jy probeer snaaks wees of wanneer jy die vis uit die water lig met die klomp hoeke in sy bek en hom dan nie behoorlik vasvat nie.

Natuurlik gaan die vis ruk en skud om weg te kom en dit is wanneer jy jou vat moet ken.

Persoonlik gebruik ek twee skerpbektange (een om die vis vas te hou en die ander een om die hoeke uit te haal) want as die vis loskom en die hoeke slaan in jou vingers vas sal jy weet wat rêrig seer is.

Een van die volgende kan dan gebeur: As jy alleen hengel mag paniek jou oorval. Probeer kalm bly en sny die lyn dadelik af want behalwe vir die hoeke in jou hand, is die stok in jou pad en kan hy breek.

Indien jy ‘n hengelmaat het kan dié flou neerval óf uitbars van die lag.

Hopelik nie lag nie, want hulp is dadelik nodig. Waar moontlik moet die weerhakke plat gedruk en die hoek uitgehaal word.

As die weerhakke in die vleis is, moet die hoek afgeknip en deurgedruk word.

Jy kan nie glo hoe taai mensvel is nie – ‘n hoek druk nie sommer deur nie, dit kos bietjie krag.

Die ergste is seker wanneer jou spanmaat weghardloop óf neerslaan. Skielik sit jy met twee ongevalle.

Die belangrikste is: bly kalm en moet nie sterk drank gebruik om jou senuwees te kalmeer nie.

Jy moet dalk self bestuur om mediese hulp te kry want nie alle hoeke kan langs die water uitgehaal word nie.

Wenk van die week:

Sorg dat jy altyd ‘n basiese noodhulptassie byderhand het – al is daar net pynpille in.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button