BlogsOpinion

‘Ek is trots op my reg om my kruisie te trek’

Te midde van: Na 22 jaar in ‘n demokrasie, het die opwinding van Stemdag vir baie mense verflou.

Al hoe meer mense stem eenvoudig nie, omdat hulle voel, hulle stem sal geen impak he op die toekoms van die land nie. Jong mense voel dikwels asof daar geen toekoms is nie en dat die uitkkoms van die verkiesing in alle geval ‘n uitgemaakte saak is.

Sekere groepe se radikale gedrag, skrik mense af. Dis seer sekerlik waar dat politiek nog altyd ‘n vuil speletjie was, maar deesdae raak dit ‘n oorlog. Mense wil eenvoudig nie nog ‘n slagoffer in die dikwels eensydige stryd om politieke mag wees nie. ‘n Gevoel van magteloosheid het ‘n verlammende effek op mense.

Ek voel anders. Ek is trots op my reg om my kruisie te trek. Ek wil getel word, al is ek net een. Dis immers uit al die ene wat mens tiene kry en uit al die tiene wat mens honderde kry.

Ek praat vandag met iemand wat mooi vir my vertel dat dit ‘n saak van onmoontlikheid is om die hart van die Bosveld te red. Daar is deesdae mos steenkoolkoors in die Bosveld. Elke Jan Rap en sy maat wil mos deesdae ‘n steenkoolmyn he en ‘n onafhanklike kragprodusent wees. Die toekoms van die mooiste dele van die Bosveld word nou vir steenkool en elektrisiteit verruil.

Ek staan ook nie in die pad van vooruitgang nie, o nee. Ek glo, mense wat so slim is om Medupi, die grootste lugverkoelde steenkoolaangedrewe kragstasie in die wereld, te kan bou, is slim genoeg om alternatiewe, hernubare kragbronne te kan ontwikkel. Al wat ons kort, is ‘n manier beter as karbatterye om sonkrag te stoor. Daarvan het die Bosveld nog meer as steenkool!

Iemand het lank terug gese: “Moet nooit vir ‘n kind se iets is onmoontlik nie. God het dalk al die eeue lank gewag juis vir so iemand om die mensdom te wys: niks is onmoontlik nie!” Die geskiedenisboeke is vol van mense wat die onmoontlike reggekry het.

Nog ‘n seding: “Bad things happen, when good men and women do nothing” wil ek beslis op my van toepassing he nie. Al kry ek dalk nie die aarde verskuif nie, glo ek elkeen kan ‘n verskil maak. Daarom sal ek my stem laat hoor, waar ek glo dit moet weerklink. Ek sal opstaan om getel te word.

My grafskrif het ek lankal uitgekies: “Sy het haar bes gedoen!”

Dit beteken nie ‘n mens raak nie moeg en moedeloos nie. Dit beteken veral nie dat ‘n mens nie misluk nie. Maar dis immers net mense wat niks doen, wat nooit iets verkeerd doen nie.

Nee, kyk maar uit vir my in die rye. Ek vier vanjaar stemdag, soos elke jaar, deur my stem te laat hoor, al is dit net ‘n piep!

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button