Elize hou haar gesondheid dop
"Dis nou maar my kind en sy raak so opgewonde as hier mense kom,"
POLOKWANE – “Dis nou maar my kind en sy raak so opgewonde as hier mense kom,” vertel Elize Klopper terwyl haar Pekingese, Misty, uit haar arms probeer spring.
Elize Klopper is ‘n 70-jarige stapper wat die een na die ander afdelingstoekenning inryg.
Sy is ook al vir drie jaar in ‘n ry aangewys as Pietersburg Road Runners (PRR) se stapper van die jaar.
“Ek het begin stap in 2006, toe ek nog in Naboom (Mookgophong) gebly het, maar dit was net om oefening te kry. Ek het elke dag om die blok en in die buurt waar ek gebly het rondgeloop,” vertel sy.
In dieselfde jaar het haar susterskind, Colinda Potgieter, haar oortuig om aan ‘n wedloop, wat in Mookgophong aangebied is, deel te neem. “Ek wou eers nie, want ek het ou tekkies gehad en ek was nie gewoond aan langafstande nie. Hulle het my ingeskryf vir die 10 km,” onthou sy.
In 2007 het Colinda haar weer oortuig om aan ‘n wedloop deel te neem. “Ek was redelik op my senuwees, want ek het my voorberei vir nog ‘n 10 km en toe vind ek die aand voor die tyd uit ek loop die 21 km, maar ek het hom klaargemaak,” vertel Elize.
Vier jaar gelede het sy na Polo-kwane verhuis en aangesluit by die Polokwane Atletiekklub. “Toe ons besluit om PRR te stig het ek en my jonger suster oorgeskuif, ons het nog gespot en sy het gesê ek sal haar nog met haar rolstoel op ons oudag oor die wenstreep stoot.”
Elize was ‘n top-atleet op skool. Sy het ook aan korfbal deelgeneem, maar het opgehou om aan sport deel te neem nadat sy getrou het en kinders gehad het. “Daar was net nie meer tyd vir alles nie.”
Elize het vyf kinders wat ook uitblink in sport.
“My een dogter, Charmaine, is ‘n kultuurmens,” sê sy.
Sy het ook ses kleinkinders wat in sport en op akademiese vlak uitblink.
“Dit is pragtige kinders, ek mis hulle verskriklik. Hulle is almal so wyd versprei,” verduidelik sy.
Op 47-jarige ouderdom het Elize besluit om saam met haar jongste seun, Jacques, aan Ringkontak-gevegkuns deel te neem.
“Daar het ek darem al ‘n groen gordel verdien,” sê sy.
Terwyl sy na die foto’s in haar vertoonkas sit en kyk vertel Elize van haar ouers.
“Destyds toe my ouers nog hier was het ons getel, toe was daar al 15 Springbokke vir verskillende tipes sport in ons familie.
“Met die kinders wat ook so goed doen is daar nou seker al meer.”
“Al het ek ‘n boks vol medaljes, gaan dit nie vir my oor wen of verloor nie, vir my is dit net belangrik om die wedloop op tyd klaar te maak,” verduidelik Elize.



