Spanning loop hoog by Noordvaal-semi
Die o/15-meisieshokkiespanne van Curro Heuwelkruin en Hoërskool Komatipoort het mekaar Saterdag die stryd aangesê in die Noordvaal semi-finaal op die Astrobaan van Hoërskool Pietersburg.
POLOKWANE – Die o/15-meisieshokkiespanne van Curro Heuwelkruin en Hoërskool Komatipoort het mekaar Saterdag die stryd aangesê in die Noordvaal semi-finaal op die Astrobaan van Hoërskool Pietersburg.
Die ondersteuners van beide spanne het geesdriftig langs die veld gestaan en elke hou saam met die hokkiespelers beleef.
Nico Geerdts, een van die ouers langs die veld, het aan Review vertel dat hy nog nie een van sy dogter se hokkiewedstryde gemis het vanjaar nie.
“Sy is baie lief vir hokkie en ek staan by haar, tree vir tree. Ouers is deesdae nie meer so betrokke by hulle kinders nie, maar dis die lekkerste gevoel om so langs die veld te staan en alles saam met die kinders te beleef,” het hy gesê.
Komatipoort het die eerste helfte van die wedstryd gedomineer, maar Heuwelkruin het teruggeveg in die tweede helfte. Die Kruinies se tweede asem was egter nie sterk genoeg nie en Komatipoort het die wedstryd met 2-1 gewen.
Die span van Komatipoort dring dus deur na die Noordvaal-finaal.



