Elbert reg vir jeugspele
Die 17-jarige Elbert Steyn glo hy is slaggereed vir die Olimpiese Jeugspele en het Sondag vertrek na Johannesburg om saam met die res van die Suid-Afrikaanse jeugspan na die Olimpiese dorp in Nanjing, Sjina, te reis.
POLOKWANE – Die 17-jarige Elbert Steyn glo hy is slaggereed vir die Olimpiese Jeugspele en het Sondag vertrek na Johannesburg om saam met die res van die Suid-Afrikaanse jeugspan na die Olimpiese dorp in Nanjing, Sjina, te reis.
Steyn is die enigste sportster uit Limpopo wat vir dié spele ge-kwalifiseer het en sal van 25 tot 27 Augustus stoei vir ‘n Olimpiese medalje in die sport wat hy “eet, slaap en drink”.
“Ek is baie opgewonde oor die Olimpiese Jeugspele en kon gisteraand nie slaap nie,” het Steyn aan Review vertel kort voor die vliegtuig na Johannesburg vertek het.
“Toe ek uiteindelik almal groet, toe word dit ‘n realiteit vir my.”
Alhoewel dit nie die eerste keer is wat hy oorsee gaan stoei nie vertel hy dat dit vir hom een van die hoogtepunte is van sy stoei-loopbaan. “Ek mik vir die goue medalje,” het die 2014 Afrika-kadetkampioen en 2013 wêreld-kadetkampioen gesê. Ons berei al vier jaar voor vir die spele en ek glo Elbert is gereed. Ons het die laaste maand baie, baie hard geoefen,” het sy afrigter, Jan Roets van Ion Baciu Stoei-klub, vertel.
“Ek is nou beter as wat ek ooit was. Op die oomblik het ek my piek bereik,” het Steyn verduidelik.
Steyn het stoeiers van Egipte, Algerië, Nigerië en ander Afrika-lande verslaan om te kwalifiseer vir die jeugspele.



