Drieëfees lê voor vir Polokwane
Rugby-aanhangers kan uitsien na drie aksiebelaaide wedstryde by die Peter Mokaba Sport Kompleks hierdie naweek.
POLOKWANE – Rugby-aanhangers kan uitsien na drie aksiebelaaide wedstryde by die Peter Mokaba Sport Kompleks hierdie naweek.
Die o/19- en o/21-Limpopo Blou Bulle sal Saterdag teen die spanne van die Griffons speel en BB Truck Noordelikes sal op die veld uitdraf teen die Supa-rugbyspan vir ‘n vriendskaplike wedstryd.
Die Limpopo Blou Bulle se o/19- en o/21-spanne het die afgelope naweek uitstekende hardlooprugby teen die Grie-kwas gespeel in Mokopane.
Die o/19-span het hulle wedstryd oortuigend met 43-17 gewen en Limpopo se spelers het sewe keer agter die poubloues se doellyn gaan kuier.
Jerome Rank, Adriaan Brits, Favian Wilken, Matthew Swanepoel, Ryan-Lee West en Brendan Vorster het elkeen oor die doellyn geduik vir ‘n drie.
Andries Heever het ook geslaag met vier doelskop pogings en het self ook ‘n drie gaan druk vir Limpopo.
Die o/21-span het na ‘n harde stryd die onderspit met 32-29 gedelf teen Griekwas.
Stefan Smit het twee drieë gedruk vir Limpopo en Toki Motsweni, Jean Grobler en Jovan Cookson het ook elkeen gesorg vir vyf punte op die telbord.
Die o/19’s sal Saterdag weer in aksie wees by die Peter Mokaba Sport Kompleks en om 13:00 teen die Griffons speel.
Die o/21’s se wedstryd begin om 15:00, net na die o/19-wedstryd.
BB Truck Noordelikes sal om 17:00 by die Peter Mokaba Sport Kompleks ‘n vriendskaplike wedstryd teen die Suparugby-span speel ter voorbereiding vir die Cell C-gemeenskapsbeker.
Suparugby is hoofsaaklik ‘n gekombineerde span wat gekies is uit verskeie Gau-tengse rugbyklubs.
Skakel die Limpopo Blou Bulle Rugby-unie by (015) 291 4752 vir meer inligting oor hierdie rugbynaweek.



