Limpopo-span wen SA-titel
Die Limpopo-meestershengelspan het die geskiedenisboeke herskryf toe hulle vir die eerste keer sedert die oorsprong van die Suid-Afrikaanse meesters-varswaterhengelkampioenskappe dié kompetisie gewen het.
POLOKWANE – Die Limpopo-meestershengelspan het die geskiedenisboeke herskryf toe hulle vir die eerste keer sedert die oorsprong van die Suid-Afrikaanse meesters-varswaterhengelkampioenskappe dié kompetisie gewen het.
Die span, bestaande uit Hannes Zietsman, Mabroek Pienaar, Pine Pienaar, Willie Immelman, Koos van der Lith, Dawie Jacobs, Pieter Smit, Albie Grech en Jakes Jacobs, het van 10 tot 12 November by die Bloemhof-dam in die Sandveld Natuurreservaat in die Vrystaat meegeding vir dié gesogte titel.
Karp, barber, geelvis en moddervis is gehengel oor drie dae vir agt ure elke dag.
Die hengelaars het ‘n totaal van 2 988 visse met `n totale gewig van 3 323 kg gevang.
Die visse is weer vrygelaat nadat die inweegprosedures afgehandel was.
Die Limpopo-meesters-hengelspan is as die wenners van die kompetisie aangewys nadat hulle in die eerste twee dae van die kompetisie reeds die voortou geneem het.
“Ons het van dag een af voorgeloop, maar was nogal verbaas toe ons hoor dat ons die voorsprong behou het ten spyte van die drastiese weersveranderinge wat die laaste dag van die kampioenskappe vir ons ingehou het,” vertel Van der Lith.
“Ons het ‘n goeie gees behou en aangehou hengel ten spyte van die reën en nat weer. Die berugte winde van die Bloemhof-dam het ook ons uitgedaag op die laaste dag. Ons het besef dat ons ‘n kans het om te wen en het die titel nagejaag,” vertel Van der Lith.
Altesaam 390 visse is deur dié span van agt gevang en hulle het die eerste plek gewen met 323 punte.
Die span van Mpumalanga het die tweede plek ingeneem met 314 punte.
Dit is die eerste keer in die 14 jaar wat die kompetisie aangebied word wat ‘n meestersspan van Limpopo die podium haal asook die eer-ste keer wat enige span van Limpopo die kampioenskappe wen.
“Om perspektief te gee: ons span was verlede jaar tweede laaste in hierdie kompetisie,” voeg Van der Lith by.
“Ons het gesorg dat ons deurgaans in die top twee plek-ke van ‘n pen eindig,” vertel Van der Lith.
Ses lede van die span is ook gekies om deel te neem aan die proewe vir die Suid-Afrikaanse Varswateroewer-meestershengelspan. Pine Pienaar en Willie Immelman het besluit om wel deel te neem aan die proewe en is ingesluit in die span.
Die span bedank graag vir Mabroek Pienaar, die spanbestuurder, vir sy hulp en leiding tydens die kompetisie en sien ook uit na die Limpopo-hengelkompetisie wat hierdie naweek by die Arabie-dam plaasvind.



