‘En garde’ is Charl
Wanneer Charl Venter (16) die woorde en garde, prêts en allez hoor is hy in sy element. Hy is 'n linkerhandse skermer met 'n blink toekoms in die skermkuns. Review gesels met hom.
POLOKWANE – Wanneer Charl Venter (16) die woorde en garde, prêts en allez hoor is hy in sy element.
Hy is ‘n linkerhandse skermer met ‘n blink toekoms in die skermkuns. Review gesels met hom.
Charl vertel dat hy vir vier jaar al skermkuns beoefen en dat hy groot planne het vir sy loopbaan in hierdie sportsoort.
“Ek wil aan die Statebondspele, Wêreld skermkampioenskappe en die Olimpiese Spele deelneem,” sê hy.
Om sy skermkuns te slyp, neem Charl elke jaar aan verskeie skermkompetisies deel: “Ek het verlede jaar aan die KwaZulu-Natal en Gauteng opeskermkampioenskappe deelgeneem asook aan die Suid-Afrikaanse ope en die Limpopo-spankompetisie”.
Charl sê die KwaZulu-Natal opeskermkampioen-skappe was vir hom ‘n moeilike kompetisie, maar hy het teruggebons na ‘n terugslag in die juniorafdeling om goud te wen in die o/17-foilafdeling.
“Ek het maar my frustasie van die komplikasies wat ek ondervind het in die juniorafdeling gekanaliseer om myself te motiveer vir die o/17-afdeling,” skerts hy.
Charl se talent op die skermbaan is nie te versmaai nie en verlede Saterdag het hy uitgevind dat hy gekwalifiseer het vir die Wêreld Skermkampioenskappe wat in April in Tashkent, Uzbekistan, plaasvind.
“Ek moes die boodskap twee keer lees voordat die nuus ingesink het,” vertel hy.
Hy is teleurgesteld dat hy nie hierdie kampioenskappe sal kan bywoon nie, maar besef dat dit ‘n groot prestasie is om te kwalifiseer.
“Daar is nie genoeg tyd vir my om my paspoort en ‘n visa te kry voor April nie. Ek sal dus nie kan gaan nie,” sê hy.
Charl oefen twee keer per week by die Firebird Skermklub onder die afrigting van Wallace Goosen en Steven McCabe.
Hierdie leerder van Hoërskool Pietersburg neem ook gereeld aan perdry-uithouritte deel en speel hokkie.
Vir hom is die linkerhandse skermmeester, Race Imboden, ‘n goeie rolmodel en iemand wat ‘n goeie voorbeeld stel vir jong skermers.
“In skermkuns moet jy altyd vooruit dink. Jou keuses en tydsberekening moet altyd op ‘n hoër vlak wees as jou opponent s’n,” sê hy.



