Rugbyklub is op dreef
DIE bestuur en rugbyspelers van die Potgietersrus Rugbyklub is oorgehaal om vanjaar weer die Wagterbergliga te wen.
DIE bestuur en rugbyspelers van die Potgietersrus Rugbyklub is oorgehaal om vanjaar weer die Wagterbergliga te wen.
Lede het Dinsdagaand in die Park Hotel bymekaar gekom waar ‘n nuwe bestuur gekies is.
Francois Duvenage is aangewys as president. Hy was een van die groot dryfvere agter die klub se uitstekende spel en seges verlede jaar. Louis Cangueira is die nuwe voorsitter.
Die streeptruie het verlede jaar vir die eerste keer in 14 jaar koning gekraai na ‘n spogoorwinning oor Northam op die rugbyveld van Hoërskool Piet Potgieter. Die toekomsplanne van die klub is Dinsdagaand bespreek en daar word beoog om vorentoe weer rugby op die ou rugbyvelde naby die Kameeldoring Gholfklub te speel en die klubhuis daar te benut.
Die span draf Saterdag om 16:00 uit teen Loskop Rugbyklub op Piet Pot se veld. Die gemeenskap word uitgenooi om die spelers te kom ondersteun.



