Stefan Brown vertel van sy eerste deelname aan die Comrades
Stefan Brown (43) het met Review gesels oor sy eerste deelname aan die Comrades Maraton en wat hy als daaruit geleer het.
POLOKWANE – Meeste ernstige drawwers beoog om eendag aan die Comrades Maraton deel te neem, maar elke potensiële deelnemer moet iewers met hul reis begin.
Stefan Brown (43) het met Review gesels oor sy eerste deelname aan die Comrades Maraton en wat hy als daaruit geleer het. Stefan se vrou, Marlyn Brown het aan laasjaar se Comrades deelgeneem, hy het haar ondersteun en dít was toe die Comrades-gogga hom gebyt het. “Ek was so trots op haar toe sy die Comrades voltooi het, ek het toe besluit dat ek ook volgende jaar saam met haar wil deelneem,” sê Stefan.
Stefan het na die 2014 Comrades begin oefen en het aan vyf verskeie maratonne deelgeneem as voorbereiding vir sy deelname aan die Comrades hierdie jaar. “Dit was verskriklik moeilik, definitief moeiliker as wat almal vir my gesê het dit sou wees,” sê hy laggend. “Dit is ‘n baie geestelike ervaring, jy moet fisiek en geestelik gereed wees as jy die Comrades wil aanpak, want dit beproef jou op soveel maniere.”
Stefan het sy eerste Comrades Maraton in ‘n tyd van 11:32:00:00 ure voltooi. Alhoewel hy die maraton voltooi het, was die laaste paar kilometers en die bulte vir hom baie uitdagend, hy het wel die atmosfeer en die feit dat hy dit saam sy vrou kon deel, vreeslik geniet.
“Om voor by die wegspringstreep te staan is baie lekker, maar naby die einde moet ‘n mens kophou. Ek glo ek sal volgende jaar nóg beter doen,” sê Stefan. Hy oefen tans by die Pietersburg Road Runners om te help met sy voorbereiding vir volgende jaar se Comrades.




