Local sportSport

Krieket is haar groot liefde

Helgelean Whelan (17) is beslis 'n jong krieketspeler om dop te hou.

POLOKWANE – Helgelean Whelan (17) is beslis ‘n jong krieketspeler om dop te hou. Sy is veral blitsvinnig as dit kom by boul en dit is ‘n kuns om haar balle raak te slaan, hetsy in die arena of op die veld. Helgelean is ‘n gr. 12-leerder by Hoërskool Pietersburg (PHS) en is een van ‘n tweeling. Sy het haar passie vir krieket ontdek in haar gr. 8-jaar by PHS waar sy gekies was as die kaptein van die o/16-meisieskrieket se eerstespan. Haar krieket het van krag tot krag gegroei en sy was sover elke jaar van haar skoolloopbaan gekies vir die meisieskrieket se eerstespan. Sy het in 2013 vir die eerste keer haar slag met aksie-krieket probeer en was in 2014 gekies vir die inter-provinsiale krieket toernooi (IPT) Limpopo se aksie-krieket toernooi wat in Kaapstad gehou was. Sy neem ook hierdie jaar deel aan die IPT Limpopo se aksie-krieket toernooi wat in Polokwane plaasvind waar sy teen ander deelnemende spanne van regoor die land sal kompeteer.

Sy was raakgesien deur senior amptenare van die SA aksie-krieket en gekies vir die o/18 Springbokspan wat na Australië sou toer. Ongelukkig tydens die registrasie was sy meegedeel dat kragtens die Australiese ouderdomme en reëls was sy drie maande te oud om deel te neem.

Review het met Helgelean gaan gesels om meer uit te vind oor haar liefde vir krieket en haar motivering om so hard te werk daarvoor.

“Toe mnr. Tjoppa de Beer en my broer, Donnavin my aangemoedig het om krieket te speel, het ek dit probeer en toe baie lief geword vir die sport,” sê Helgelean.

Sy oefen tans ses keer ‘n week krieket en aksie-krieket, die aksie-krieket is nie ‘n meisieskrieket span nie, dit is ‘n gemengde klub liga.

“Saam met mans is die sport definitief baie vinniger en moeiliker, maar ek sien dit as ‘n uitdaging en geniet dit baie,” vertel sy.

Sy kolf tans vyfde en open die boulwerk vir haar spanne. Halfweg is haar gunsteling posisie as dit kom by veldwerk.

Helgelean sê dat sy nie ‘n spesifieke rolmodel het as dit by krieket kom nie, maar dat sy dit wel baie geniet om na AB de Villiers se spel te kyk.

Sy oefen tans onder die afrigting van Brian Fraser en Sedibu Mohlaba om verder aan haar tegniek te skaaf.

Helgelean wil graag toerisme studeer en sal dit geniet om in die krieketspanne van die Noordwes universiteit of die universiteit van Pretoria te wees. Sy is tans in kontak met die Australiese vroue krieketspan en beplan om haar sportdroom daar te gaan najaag en vir Australië krieket te speel na skool.

“As jy sien die Here het jou potensiaal in die sport gegee, moet jy voluit in die sport gaan, jou talente gebruik en ‘n groot sukses daarvan maak,” is haar raad vir meisies wat ook graag die sport wil beoefen.

“Ek was nog altyd gek oor die sport, of dit nou ernstig is of net vir die lekkerte, ek geniet myself en gee altyd my beste,” sluit Helgelean af.

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button