HTS kondig wenner aan in jaggeweerkompetisie
Op Maandag, 31 Augustus is die trekking gehou deur Martin Venter. Pierre Maritz was die gelukkige wenner van die jaggeweer.
POLOKWANE – ‘n Paar maande gelede het Hoër Tegniese Skool Tom Naudé ‘n projek geloods waarin daar ‘n Marlin .243 jaggeweer, wat deur Marlen Industries aan HTS Tom Naudé geskenk is, uitgeloot is om geld in te samel vir die opknap van die skoolterrein se teerpaaie.
“Ek is self ‘n oud-Tommie en dit is ‘n eer om weer aan die skool terug te gee,” verduidelik Martin Venter, eienaar van Marlen Industries.
Kaartjies was verkoop teen R100 stuk en die persoon wat die meeste kaartjies verkoop het, het R5 000 ontvang.
Op Maandag, 31 Augustus is die trekking gehou deur Martin Venter. Pierre Maritz was die gelukkige wenner van die jaggeweer. Maritz was teen die tyd van die trekking in Tzaneen, maar sy dogter, Tianie Maritz het die prys namens hom ontvang. Marlen Industries bied ook aan hom die vaardigheidsopleiding vir die vuurwapen.
“Ek kon nie glo toe hulle my bel en sê ek het gewen nie. ‘n Mens wen nie elke dag so iets nie, dit is ‘n baie groot prys,” vertel Maritz opgewonde.
Die totale waarde van die prys is R20 000.
Ruben Scheepers was die wenner van die R5 000 prysgeld as die leerder wat die meeste kaartjies verkoop het.
“Baie dankie vir elke persoon se bydrae, ons waardeer dit geweldig. Binnekort gaan die skool soos ‘n splinternuwe sikspens lyk,” sê Piet Holthauzen, waarnemende hoof van Tom Naudé.






