Ralien galop gretig voor
Mokopane se voshaarruiter, Ralien de Beer (16) wys sy skrik glad nie wanneer dit kom by uithou en aanhou deur die slote en oor die bulte nie.
MOKOPANE – Sy het tydens die April vakansie aan drie uithouritte deelgeneem en is ook gekies as kaptein van die Nasionale Jongruiterspan wat nou in Fauresmith in die Vrystaat byeen is vir die jaarlikse South African International Challenge uithourit.
Sy het op 19 Maart in Loskopvallei die 80 km rit op die rug van Mekadesh Jiddan gewen en is ook daar beloon met ‘n toekenning vir die beste voorbereide perd.
Op 1 April het sy haar slag gewys tydens die Waterberg-uithourit en die 80 km-afdeling gewen op die rug van Perdeberg Rudie. Die volgende dag het sy en haar gunsteling vos, Arkab Talafat, nog ‘n 80 km rit ingepalm. Sy het vir beide die ritte die toekenning vir die beste voorbereide perd ontvang.
Vandeesweek ry Ralien op die rug van Mekadesh Jiddan vir die 160 km rit en daarna pak sy en Arkab Talafat die 120 km rit aan.
Dit is die sewende agtereenvolgende keer wat sy die land verteenwoordig en die derde keer wat sy as kaptein gekies is. Ralien is trots op haar toekennings.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za





