Local sportSport

HPP-meisies kraai koning op krieketveld

Die krieketseisoen is nou in volle gang en by Hoërskool Piet Potgieter (HPP) is dit nie net die seuns wat dié sport geniet nie, maar ook die meisies.

MOKOPANE – Met die hulp van Melanie du Toit, afrigter, kan die meisies hul volle potensiaal op die krieketveld behaal en is hulle glad nie skaam om te kolf, te boul of te nael vir die bal nie. Krieket onder meisies word al hoe meer gewild en dit word nie meer as net ‘n sport vir seuns gesien nie.

Denja Pretorius (kaptein) in aksie.

HPP spog vanjaar met drie meisiekrieketspanne, ‘n o/14-span, o/15-span en eerstespan met kapteine Denja Pretorius en Lerato Malungane. Melanie sê: “Op die oomblik is dit slegs die eerstespan wat aan die o/19-A Krieket Superliga deelneem. Verlede jaar het die span ‘n algehele derde plek uit agt skole opgeraap, maar vanjaar hoop ons om ‘n eerste plek te kry.”

Lehlogonolo Selota dink voor sy begin boul.

Die eerstespan het nog net twee wedstryde van die liga gespeel. Die span het ongelukkig hul eerste wedstryd verloor, maar verlede Saterdag het hulle Hoërskool Pietersburg met 114 lopies geklop nadat hulle hul teenstanders vir 65 uitgehaal het. Dié eerstepan het 178 lopies in 25 beurte geslaan met vyf paaltjies staande.

Melanie sê die meisies geniet die sport vreeslik en is beslis nie bang nie. “Hulle probeer altyd om die seunsspanne te wys hulle kan. Krieket was vroeër jare deel van die skool, maar het in ‘n stadium doodgeloop. Ons het verlede jaar besluit om dit weer terug te bring omdat daar baie belangstelling was. Dit is ‘n lekker sport en ek het aanvanklik in die begin min kennis oor die sportsoort gehad nie, maar ek leer net so lekker saam soos die spelers. Dit is nie net vir my lekker om dit af te rig nie, maar ook vir die meisies om die spel te speel. Ons o/14 en o/15-spanne speel nie op die oomblik in die liga nie omdat ons hulle nog voorberei. Hulle toon goeie vordering.”

Melanie sê die meisies vertel hulle speel graag saam met hulle broers en pa’s by die huis of op die strand. Die meisies is wel nie so blootgestel soos seuns om balle hard te gooi of te slaan nie en die aanleer van die regte tegniek vat soms bietjie langer, maar hulle motiveer mekaar.”

Kaptein Denja sê dat haar span altyd hul beste gee en mekaar motiveer. “Krieket is vir my ‘n passie en ek is bly ons kon dit ‘n skoolsportsoort maak. Ek hou veral van kolf. ”

Clayton Smith, Hoof-uitvoerendebeampte van Limpopo Impala Cricket (LIC), sê voorheen het meisieskrieket nie dieselfde hoeveelheid geleenthede soos seuns gehad nie en die LIC het besluit dat, in orde om die spel te laat groei, die probleem in die hele krieket pyplyn aangevat moet word.

“Dit sluit in die KFC mini-krieket, voorstelling van ‘n o/13-laerskoolkrieketliga vir meisies, die groei in deelname onder die o/19-hoërskoolmeisiesspanne, asook die voorstelling van ‘n vroue-krieketklub gedurende die 2017/18 seisoen met ‘n T20 liga. Voeg daarby ‘n 40 en ouer liga in die 2018/19 seisoen. ”

Volgens hom is die huidige spanne in die hoërskoolliga baie kompeterend en die spelers het goeie vaardighede wat vir opwindende wedstryde sorg.

“Gedurende die laaste seisoen was Kushi Mistry, ‘n o/19- speler, vir die o/19 Phillies-span gekies en ons hoop dat meer meisies in haar voetspore sal volg. Vroue het sedert die 19de eeu in Suid-Afrika krieket begin gespeel en ons sien dat veral by die KFC mini-krieket, daar soms geen verskil tussen die vaardighede van ‘n meisiespeler en ‘n seunspeler is nie. Sedert die laaste Vrouekrieket Wêreldbeker-toernooi in Engeland het ons agtergekom dat daar verseker groei is in belangstelling onder meisies in krieket, nie net in Limpopo nie, maar oor die hele Suid-Afrika.”

Smith glo dat die toekoms goeie vooruitsigte vir meisiekrieket inhou en dat dit ‘n spel is vir almal om terdeë te geniet.

HPP se eerstespan speel eerskomende Vrydag om 09:00 op eie bodem teen ‘n span van Mahwelereng.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button