Dieselfde krieket, met ‘n ‘ander’ aanslag
Jolan Nel (18) is op die ouderdom van drie jaar met outisme gediagnoseer nadat sy spraakontwikkeling en sosiale interaksie nie na wense gevorder het nie.
POLOKWANE – Terwyl die musiek speel en die aksiekrieketspelers nog rondstaan voor die wedstryde begin, warm ‘n paar spelers in die nette op.
‘n Jong seun maak gereed om te boul en langs my merk ‘n ander speler op, dat dié seun outisties is.
Dit is bykans onmoontlik om te glo, want die stereotipe rondom outisme is dat soveel geraas en bedrywigheid ‘n resep vir ‘n ramp is.
Maar Jolan Nel (18) is in sy element waar hy boul.
Hy is op die ouderdom van drie jaar met outisme gediagnoseer nadat sy spraakontwikkeling en sosiale interaksie nie na wense gevorder het nie.
Sy ma, Liezl, sê dit het lank geneem om sy selfvertroue op ‘n vlak te kry waar hy dinge self kon doen.
“Hy is hoog funksionerend en nie-verbaal. Hy maak gebruik van sy selfoon om prentjies te soek op Google om dan sodoende met ons te kommunikeer. Die meeste kinders op die outismespektrum herhaal slegs die woorde wat jy vir hulle sê.”
Liezl verduidelik dat terapie en behandeling rondom outisme 15 jaar gelede, toe Jolan gediagnoseer is, nog relatief onbekende terrein was, en dus ‘n uitdaging.
“Ons was baie gelukkig dat ‘n afgetrede onderwyseres aangebied het om vir hom deur SNAP skool te gee.”
Jolan se passie is aanlynspeletjies. Sy huidige obsessie is die speletjies Elden Ring en Yugi Oh.
“Die uitdaging van dié speletjies, is om strategies te dink. Hy speel teen ander mense en dit hou sy brein besig en kalmeer hom.
Kinders met outisme is geneig om erge ineenstortings te kry en dit was geensins anders met Jolan nie.
Sy ouers het met tyd geleer watter snellers om te vermy.
“Die hoofredes vir hierdie ineenstortings is wanneer hy afwyk van sy roetine, oorgestimuleer word en wanneer hy sukkel om te kommunikeer. Ons kan die beginstadium van ‘n ineenstorting identifiseer en sal dan dadelik aandag gee aan dit wat die sneller is.”
Jolan se pa, Japie, ‘n bekende in plaaslike krieketkringe, het saam met hom by die huis begin krieket speel en hom mettertyd aan ander krieketspelers voorgestel.
“Ek het aan die mense verduidelik dat Jolan outisties is en wenke gegee oor hoe hulle hom moet behandel. Die mense van die Polokwane Action Sport arena is wonderlik. Hulle het sy eerste ondervinding so positief gemaak dat hy elke keer as ek hom gevra het of hy wil saamgaan, sommer dadelik instem.”
Uitdagings is deel van die lewe, en na Jolan se diagnose, het Liezl en Japie ook hulle uitdagings gehad en oorkom.
Liezl onthou: “Ek dink die ergste was eerstens om die sindroom te verstaan en ook hoe dit Jolan raak. Daarna moes ons ‘n skool kry wat hom sou aanvaar, en dan ook natuurlik die emosionele uitputting”.
Jolan het sy skoolloopbaan voltooi en sy gesin beskryf hom as “differently-abled”.
“Hy is ‘n ‘IT-wizard’ en ons sal wel vir hom iets kry wat vir hom werk,” sluit hulle af.




