Milana bid vir ‘n tweede kans op ‘n pynvrye lewe
Ná jare van tydelike oplossings, dra Milana Badenhorst steeds die pyn van 'n baarmoederprolaps. Sy hoop en bid vir die R47 000 wat sy vir haar operasie nodig het.
POLOKWANE – Soms moet Milana Badenhorst kies tussen pynmedikasie en ander noodsaaklike huishoudelike uitgawes, net om deur die dag te kom.
Milana moet dringend ‘n histerektomie ondergaan nadat die tydelike oplossing wat twee jaar gelede aan haar gebied is, nie meer voldoende is nie, vertel sy.
“Die dokter het, nadat hy ‘n prosedure gedoen het om ‘n sist in my baarmoeder te verwyder, ‘n pessarium, ‘n mediese ondersteunende toestel wat die strukture in die bekken ondersteun, vir my ingesit. Dit, nadat hy bevestig het ek het ‘n baarmoederprolaps.”
Die nuus was nie iets wat sy ooit verwag het om te hoor nie. Sy was geskok en bang.
Sy is destyds meegedeel dat die pessarium slegs ‘n tydelike oplossing is, en haar toestand het intussen vererger tot waar sy vandag met konstante pyn leef.
Milana kon destyds nie die histerektomie ondergaan nie, en die toestel het haar gehelp om met haar lewe voort te gaan.
“Ek het besef dat ek nie net meer op die tydelike oplossing kan staatmaak nie en dat ek die histerektomie moet kry. Dit was baie moeilik om te aanvaar. ‘n Mens dink aan alles wat daarmee saamgaan en wonder hoekom dit met jou gebeur. Ek was emosioneel en bekommerd oor my toekoms en my gesondheid.”
Haar toestand beïnvloed elke deel van haar dag. Sy sukkel om te beweeg, terwyl dit moeilik is om soos ‘n gewone mens te sit en staan. Die pyn en ongemak is ‘n konstante deel van haar lewe.
“Dit is moeilik om die pyn in woorde te beskryf. Dit is nie net ‘n klein ongemaklikheid nie, dit kan intens wees en my hele dag oorneem. Party dae voel dit asof my liggaam net nie meer kans sien nie.”
Sy ervaar ook aanhoudende rugpyn wat beweging bemoeilik. Selfs eenvoudige dinge wat ‘n mens normaalweg vanself doen, kan volgens haar baie moeite en pyn veroorsaak.
Intussen raak dit al hoe moeiliker om haar medikasie maandeliks te bekostig. “Daar is tye wat ek moet wonder hoe ek alles gaan betaal. Ek wil nie hê my kinders of my huishouding moet daaronder ly nie, maar wanneer jy in pyn is, voel medikasie soos iets wat jy móét hê.”
Sy wil graag werk en onafhanklik wees, maar haar toestand beperk haar en plaas groot finansiële druk op die huishouding.
Milana erken sy is bang vir die operasie, maar terselfdertyd hoopvol.
“Ek is nóg banger om aan te hou leef soos ek nou leef. En ek weet, glo en vertrou op my Hemelse Vader. Ek bid baie. By die Here is niks onmoontlik nie.”
Sy het reeds ‘n kwotasie van haar dokter ontvang. Die bedrag wat sy moet insamel, beloop R47 000.
“Dit is vir my ‘n baie groot bedrag, maar dit is geld wat ek nodig het om die operasie te kan ondergaan en hopelik my gesondheid en lewenskwaliteit terug te kry. Ek het probeer om self soveel as moontlik te doen om geld te spaar.”
Dit is nie maklik vir Milana om hulp te vra nie. Sy sê dit is vernederend om te moet erken dat sy dit nie alleen kan bekostig nie.
“Ek wil net weer leef sonder om voortdurend aan pyn te dink. Ek wil opstaan en my dag begin sonder om bekommerd oor pyn te wees. Ek wil weer vrylik saam met my kinders kan wees, werk, lag, beweeg en die klein gewone dinge in die lewe geniet wat ek vroeër as vanselfsprekend aanvaar het. Ek wil nie jammer gekry word nie, ek wil net ‘n kans hê om weer gesond te word en my lewe terug te kry.”
Kontak Milana by milanactk@gmail.com indien jy wil help.




