Armdrukker Ruan spog met 2 silwer medaljes
Bronkhorst sê sy grootste uitdagings in Ghana was die omstandighede en kommunikasie en hulle moes dikwels in lang rye staan vir kos wat sommige atlete siek gemaak het.
POLOKWANE – Terwyl Ruan Bronkhorst se familie langs sy bed vir hom in 2008 gebid het, het nie een van hulle sou kon raai dat hy jare later in Akkra, Ghana aan die Afrika Spele sou deelneem nie.
Bronkhorst, ‘n lid van die Proteaspan, het Suid-Afrika onlangs in die armdruk +100kg-afdeling verteenwoordig en met twee silwer medaljes huis toe gekom.
Bronkhorst het in 2008 om sy lewe geveg in die hospitaal na ‘n motorongeluk.
“Ek was in ‘n ernstige ongeluk op die Soetdoringspad betrokke, en vir 11 weke in ‘n koma. Iewers het die dokters my familie laat weet dinge lyk nie goed nie en dat hulle my moes kom groet.”
Bronkhorst het egter terugbaklei en na vier maande in die hospitaal, kon hy na ‘n rehabilitasiesentrum gaan.
Alhoewel hy skade aan sy brein en breinstam opgedoen het, het hy nie aan geheueverlies gely nie. Die dokters het wel vir hom gesê hy sal nie kinders kan hê nie, maar vandag spog hy trots met twee woelwaters.
“Ek het in 2012 by ‘n motorfietssamekoms by Lalapanzi vir die pret aan ‘n armdrukitem deelgeneem. Ek het gewen en iemand het vir my Danie Fourie van Lynx Armdruk se nommer gegee.”
Hierna het Bronkhorst sy energie op die armdruk gefokus en alhoewel hy vantevore profesieë gehad het dat hy die groen en goud oor sy kop gaan trek, en hy gedink het dit gaan in rugby wees, het hy spoedig besef hy kan met armdruk ook die groen en goud dra.
“Armdruk is ‘n spansport, al dink baie mense dit is ‘n individuele sport. By die tafel is jy wel alleen, maar tydens jou voorbereiding het jy ‘n sterk span nodig. Dit is ook daardie span wat jou van die kant af aanmoedig terwyl jy druk.”
Bronkhorst is elke dag van die week in die gimnasium, maar oefen sy arms maksimum twee keer ‘n week.
“Jy kan baie oefen, maar as jy nie by ‘n tafel uitkom om te druk nie, gaan jy nie goed vaar nie. My regterkant is sterker maar stadiger en ek verkies ook om met daardie kant te druk. Armdruk behels baie tegniek, en is nie net vir druk nie. Hoe jy vat en jou dissipline is ook belangrik.”
‘n Mens kan dink dat daar nie eintlik beserings in hierdie sportsoort is nie, maar Bronkhorst vertel jy kan jou arms breek en jou boarmspier skeur.
Hy het wel aan gewone armdruk deelgeneem, maar neem ook in kompetisies vir gestremde mense deel. Hy noem sy regterarm “Wêreldbeker” (want almal onthou hom) en die linkerarm, “Vodacombeker” (want minder mense onthou hom), vertel hy verder.
Bronkhorst sê sy grootste uitdagings in Ghana was die omstandighede en kommunikasie. Hulle moes dikwels in lang rye staan vir kos wat sommige atlete siek gemaak het, vertel hy.
“Dit was baie duur en as jy na ander items wou gaan kyk, moes jy ‘n taxi tot daar neem wat dit ook duur gemaak het. Die hoë humiditeit was ook ‘n uitdaging.”
Die meeste sportmense het hulle eie rolmodelle, en vir dié armdrukker is dit Devon Larratt en John Brzenk wat hom inspireer om beter te vaar.




