Kaalvuisgevegte: Frederich maak gereed
Frederich is 'n ou hand in die ringgevegarena (cage fighting) en sy volgende uitdaging is om kaalvuisgevegte te beoefen.
POLOKWANE – Met ‘n bynaam soos Ninja kan ‘n mens verwag dat Frederich Naumann (41) nie sal skroom om die vuiste in te lê wanneer nodig nie.
Frederich is ‘n ou hand in die ringgevegarena (cage fighting) en sy volgende uitdaging is om kaalvuisgevegte te beoefen.
“Ek is heeltyd opsoek na nuwe uitdagings. Bareknuckle fighting is net soos gewone boks, net sonder die bokshandskoene.”
Hy verduidelik dat daar vyf rondtes is van twee minute elk. Naumann het ook ‘n kontrak by Tiny Bare Knuckle Boxing (TBK) geteken.
Hy het reeds as jong seun saam met sy pa boks geoefen en later by Roelf Venter begin skopboksafrigting kry en aan amateurskopboksgevegte begin deelneem.
“Hierdie was in 2000 en ek het later K-1-gevegte geveg. Dit behels al die gemengde gevegkunsstyle in een. Heelwat later, in 2010 het ek begin stoei en Brasiliaanse jiu-jitso beoefen onder die afrigting van Jan Roets.
“En twee jaar later het ek met amateurringgevegkuns begin.”
Frederich sê hy het al ses sy amateurgevegte in 2012 gewen en later professioneel begin veg waar hy in 2013 vier gevegte gewen het.
“Ek was die eerste Limpopo gemengdegevegkunsvegter wat ‘n 18-maandekontrak met Extreme Fighting Championships Africa (EFC) Africa en die eerste een wat vir die titel geveg het. Dit was egter ook my eerste verloor.”
In hierdie geveg het Frederich onder andere sy boonste kakebeen en neus gebreek.
Hy het besluit om eers die gevegwêreld vaarwel te roep tot sy liggaam herstel het.
“Vir hierdie sport moet jy jou kop gebruik, meer as jou liggaam. Jy moet wel fiks en gesond wees.
“Die bareknuckle fighting was nog altyd iets wat ek wou doen. Dit is wel hoë risiko. Ek het ‘n TBK-geveg vroeg in Julie en beoog om die sport vir twee jaar te beoefen. Ek wil graag op 45 wegbreek en eerder op afrigting fokus.”
Frederich is die trotse pa van twee kinders, wat ook sy liefde vir die sport deel.
Mieke (15) en Rheinn (12) oefen gereeld saam met hom en is sy grootste inspirasie.
Hy dra sy komende geveg aan Rheinn op, wat in sy voetspore wil volg.
“Ek oefen ses dae ‘n week, drie ure elke dag. Ek spring tou, boks teen die bokssak, oefen die bewegings sonder ‘n bokssak of opponent (sparring) en werk aan my voetwerk.”
Frederich is ‘n rekenmeester van beroep, en ook tans besig met ‘n kursus in lewensafrigting.
Hy is ‘n gesinsman wat daarvan hou om vis te vang, te swem, en kos te maak. Hy skiet ook graag boog. Sy familie is sy grootste ondersteuners.
Hy benodig egter borge vir sy TBK-geveg.
As jy kan help, kontak Frederich by 072 587 9687.




