Luan (8) en sy brulfiets avonture
Luan van Niekerk jaag motocross-sukses na, geïnspireer deur geloof en familie, met sy visier op die Inland Championship titel.
POLOKWANE – Terwyl sy maats hulleself met ander tipiese gr. 2-dinge besig hou, is Luan van Niekerk (8) op sy motorfiets, besig om te oefen.
Dié leerder van Pietersburg Laerskool het in 2020, toe hy net vier jaar oud was, al begin ry.
“Ek het van ‘n jong ouderdom af met motorfietse te doen gekry en dit was nog altyd ‘n droom van my om aan kompetisies deel te neem. Dit is vir my lekker as die bane gereeld verander word en dan natuurlik die spronge wat ek met die fiets doen. My grootste uitdaging is die draaie.”
Luan sê hy probeer om soveel as moontlik middae te oefen, “maar huiswerk staan soms in my pad”.
Hy beoog om volgende jaar die ‘Inland Championship’ te wen en sy 65cc motorfiets baas te raak.
Sy prestasies van 2024 was indrukwekkend, nadat hy in Junie onder die top vyf Gauteng motorfietsryers eindig en in Augustus aan die Noord vs Suid interprovinsiale uitdaging deelneem.
Hy het ook ‘n vierde plek by die MSA noordelike streek motocrosskampioenskappe verwerf.
Luan is die oudste van drie broers. Janko ry reeds saam en Luan sê dit is lekker dat sy broer die sportsoort saam met hom kan geniet. Reynardt is ook al gereed, met veiligheidsklere en motorfiets, om by sy ouer boeties aan te sluit.
“Ek glo my sukses hang van myself af. Voor elke wedren bid ek en na die wedren, sê ek dankie, want dit is die Here wat die talent vir my gegee het.”
By die skool sit Luan ook nie stil nie, maar neem deel aan rugby, hokkie en binnekort ook krieket. Hy geniet dit om te swem, buite te speel en natuurlik ook om by sy oupa se dam te gaan visvang.




