Ringtennis-duo reis na Duitsland as deel van SA-span
Polokwane se Richter van Tonder en Emelia Olley sal Suid-Afrika by 'n internasionale ringtennistoernooi in Duitsland verteenwoordig.
POLOKWANE – Richter van Tonder (o/23) en Emelia Olley, lede van die Polokwane Ringtennisklub, gaan Suid-Afrika verteenwoordig as deel van die nasionale span by ‘n internasionale toernooi in Duitsland van 1 tot 16 Julie.
Die spelers het hul plekke in die nasionale span verseker ná indrukwekkende vertonings tydens die seniorspanproewe en Richter by die o/23- oefenkamp wat verlede Saterdag in Vanderbijlpark gehou is.
Die Polokwane Ringtennisklub maak intussen gereed vir die SA Enkelspelkampioenskap op 29 Maart in Pretoria. Klublede sal in verskeie kategorieë deelneem, insluitend o/13, o/16, o/21, seniors en meesters.
Die klub is ook besig met beplanning vir die 2027 Wêreldkampioenskap wat in Suid-Afrika aangebied word. Volgens Emelia is die fokus daarop om junior spelers te ontwikkel wat moontlik by die o/23 Proteaspan kan aansluit.
“Deur vroeg te begin, gee ons hierdie jong atlete ‘n fantastiese geleentheid om hul vaardighede te slyp, waardevolle ervaring op te doen en moontlik ‘n plek in die span te verdien,” het sy gesê.
Olley het beklemtoon dat die klub met strategiese beplanning, toewyding en ondersteuning ‘n sterk pyplyn van talent kan skep wat gereed sal wees om op die internasionale verhoog te skitter.
Die Polokwane Ringtennisklub hou oefensessies elke Dinsdagaand en Donderdagaand van 17:30 tot 18:30 of 19:00 by die ringtennis- en ringbalbane in Dorpstraat, oorkant die Peter Mokaba Stadion.
“Ons nooi almal uit om saam met ons aan te sluit,” het sy bygevoeg.




