Jong Roelf trap petrolpedaal in Engeland
Na baie harde werk en deursettingsvermoë is Roelf Bezuidenhout se droom nou bewaarheid.
MOKOPANE – “Ons as die Van der Merwe- en Bezuidenhoutfamilie van Rietkuil wil graag die Bosveld Wedrenklub bedank omdat hulle ons met ope arms in die 2023- en 2024-seisoen aanvaar het,” sê Christa van der Merwe.
“Dit was vir ons ‘n eer om aan julle te behoort. Dankie aan die bestuur, drywers, marshals en toeskouers – en ‘n spesiale dankie omdat julle gehelp het om Roelf in die VK te kry vir die wêreldfinale. Ons waardeer dit opreg.”
Bosveld het vroeër berig dat Roelf Bezuidenhout gekies is om aan die wêreldkampioenskappe in Ipswich, Engeland, in die ninja midgetklas deel te neem vanaf 6 tot 7 Julie 2024.
Hierdie ywerige renjaer het sy motorsportreis begin toe hy net vier jaar en drie maande oud was. Sy ouma, Christa, vertel dat wedrenne in hul familie ‘n tradisie is, met sy oupa, pa, ma, ooms en niggies wat almal voor hom deelgeneem het.
“Ons het hom nooit gedruk nie, maar hom toegelaat om op sy eie in die sport te ontwikkel, sê sy. Hy is ‘n nederige seuntjie wat vriendskaplik is met al sy teenstanders.”
Die pad na die wêreldkampioenskappe was vol uitdagings. In 2022, op net negejarige ouderdom, moes hy spesiale toestemming kry om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem.
Destyds was hy die jongste deelnemer, aangesien kinders eers in die jaar wat hulle 10 word mag deelneem.
Tydens die internasionale kampioenskap in 2023 het 31 renjaers meegeding, insluitend 10 internasionale deelnemers wat na SA gereis het.
Om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe moes deelnemers aan spesifieke ouderdomskriteria voldoen, en die top twee is gekies om Suid-Afrika in Engeland te verteenwoordig.
Na baie harde werk en deursettingsvermoë is Roelf se droom nou bewaarheid. Hy vertel geesdriftig dat hy sy tyd oorsee ongelooflik geniet het en baie geleer het.



