Polokwane se atlete hardloop Two Oceans
Die Pietersburg Road Runners se deelname het weereens gewys dat die stad se atlete nie net uithouvermoë het nie, maar ook die gees van sportmanskap en toewyding.
POLOKWANE – Die jaarlikse Totalsports Two Oceans Marathon is die afgelope naweek in Kaapstad gehardloop, en atlete van Pietersburg Road Runners het beslis die stad se vlag laat wapper. Die marathon bestaan uit twee hoofitems: ’n ultramarathon van 56km en ’n halfmarathon van 21.1km.
Deelnemers aan die ultramarathon het Saterdag aan die wedloop deelgeneem, terwyl die halfmarathon-atlete hul kans Sondag gekry het.
Die roete van die ultramarathon het asemrowende besienswaardighede ingesluit soos Chapman’s Peak, Kalkbaai, St James, Muizenberg, Constantia en Nuweland.
Die 2025-wedloop was die 54ste keer dat dié wedloop gehou is. Die afsnytyd is sewe ure.
Vir die 26ste keer egter kon hardlopers aan die halfmarathon deelneem, en dié roete het deelnemers deur Claremont, Wynberg en Constantia geneem. Die afsnytyd vir hierdie afstand was drie uur en 30 minute.
Die Pietersburg Road Runners se deelname het weereens gewys dat die stad se atlete nie net uithouvermoë het nie, maar ook die gees van sportmanskap en toewyding.
Two Oceans ultra marathon
56km
• Tamarin de Bruin: 05:28:22.
• Angelique Liversage: 05:44:56.
• Colinda Potgieter: 06:04:10.
• Corni Foord: 06:48:44.
Two Oceans Half-marathon: 21.1km
• Danelle Neuhoff: 02:29:42.
• Jan Viljoen: 02:31:04.
• Susan Viljoen: 02:39:26.
• Tamarin de Bruin het haar heel eerste ultramarathon voltooi en dit was ook haar eerste Two Oceans.
• Angelique Liversage het haar tweede Oceans afgelê.
• Colinda Potgieter het haar 10de Two Oceans voltooi en sodoende haar permanente nommer (6469) ontvang.
• Corni Foord het sy eerste ultra- en Two Oceans afgelê.
• Danelle Neuhoff het ook haar persoonlike beste tyd verbeter, so op die moeilike Two Oceans roete met ‘n lekker lang 5km en Southern Cross bult kort voor die einde.




