Saam-saam Comrades vir dié twee
Michelle en Pierre Kachelhoffer is bykans 10 jaar getroud en het besluit om vanjaar sy-aan-sy die 89km vanaf Pietermaritzburg tot Durban aan te pak.
POLOKWANE – Eerskomende Sondag neem duisende atlete aan die jaarlikse Comrades Maraton deel, en soos die dae afgetel word, word die laaste reëlings getref en planne gemaak.
Michelle en Pierre Kachelhoffer is bykans 10 jaar getroud en het besluit om vanjaar sy-aan-sy die 89km vanaf Pietermaritzburg tot Durban aan te pak.
“Pierre het ongeveer ses jaar gelede vir my gesê ‘hier is ‘n oefenprogram vir die Comrades Marathon, ons is reeds twee dae agter die skedule en sal moet begin oefen.’ Ek het toe gesê ek’s in vir dié uitdaging,” vertel Michelle.
Sy voeg by dat dit die laaste keer was dat sy en Pierre daaroor gepraat het, tot en met verlede jaar.
“Ek vir Pierre gesê ek dink ek wil ‘n derde kind hè, toe hy sê, hy dink ek moet eerder begin draf. Ek het begin draf en een middag vir Pierre gesê hy moet saamkom. Ek het op my vinnigste probeer draf om vir hom te wys hoe goed ek is. Ons was na daardie drafsessie altwee vir ‘n week buite aksie. As Pierre kon teruggaan in tyd, dink ek die derde kind was nie ‘n slegte opsie teenoor die berg wat nou vir ons voorlê nie. Ons het deel geraak van die Pietersburg Road Runners, en met al hulle deskundige drafkennis en kameraadskap het die Comrades vir ons ‘n werklikheid begin word.”
Pierre sê soos met die meeste dinge, werk dit net beter as ‘n mens twee is.
“Dit verg twee om die tango te doen. Ek en Michelle pak alles as ‘n span aan – hoe ons ons kinders grootmaak, hoe ons daaglikse werk en lewensprobleme aanpak, en ook hoe ons die Hemelse Vader aanbid.”
Op die vraag oor wie die fiksste is, is Michelle seker sy is fikser as Pierre. Pierre sê egter hardloop is in sy bloed, en dat dit meer natuurlik vir hom kom.
Michelle sê hulle is van die gelukkige atlete wie se drafpas vir al twee gemaklik is.
“Dit is baie moeilik om ‘n drafmaatjie te hê’, want ‘n mens se energievlakke verskil gereeld. Eerlike, oop kommunikasie help ook.”
Pierre sê dit is ‘n voorreg om hierdie uitdaging saam aan te pak.
“Ons is dalkbaar vir die Liewe Vader wat ons seën met talente en gesonde lywe. Ons hardloop uit dankbaarheid dat ons ‘n kans het om dit wel te kan aanpak. Dit is kwaliteit tyd wat ons elke dag saam spandeer, alhoewel ons dalk net die eerste 10 minute kan gesels voordat ons asems maar min raak,” het hy afgesluit.




