Piet Pot o/14’s druk die wen drieë
HPP het in afdeling drie gespeel wat deel vorm van die Limpopo-afdeling en het in dié afdelingfinaal baie goed gevaar.
MOKOPANE – Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se o/14- en o/15-rugbyspanne het onlangs aan die SDC Noordvaalbeker se provinsiale finaal deelgeneem. HPP het in afdeling drie gespeel wat deel vorm van die Limpopo-afdeling en het in dié afdelingfinaal baie goed gevaar.
In die Limpopo-afdeling het drie skole deurgedring: Hoërskool Frans du Toit, Louis Trichardt en Piet Potgieter. Die wenners van die verskeie afdelings gaan in die kwalifiserende rondes, gevolg deur die kwartfinaal, semi-finaal en die finaal van die Noordvaalbeker deelneem.
HPP se o/15A-rugbyspan het teen Louis Trichardt te staan gekom in die Limpopo-afdelingfinaal en die wedstryd 19-14 verloor. HPP se o/15’s is naaswenners in dié afdeling.
By die o/14A-rugbyspan behaal ‘n wegholoorwinning van 39-12 teenoor Louis Trichard en word as Limpopo-afdelingwenners aangewys.
Afrigter Douw Oosthuizen vertel dat HPP se o/14A-span in 2024 ook die Limpopo-afdeling drie wenners was en die eerstespan, die naaswenners.
“Harde oefening en kameraadskap het die o/14’s gebring waar hulle nou is. Na die liga het hulle deur die vakansie aanhou hard oefen. Hulle het agt wedstryde gespeel en almal gewen. Ek is ongelooflik trots op die span.”
Die volgende spelers het punte aangeteken vir die span: Dawid Oosthuizen die spankaptein, teken twee drieë aan, terwyl MJ Naude ook twee drieë aangeteken het. Hy word ook aangewys as die speler van die wedstryd. Tiaan van Wyngaardt, Nathan Gouws en Antoon du Plessis het elkeen een drie gedruk tydens die wedstryd.
“Ons het besef dat ons dit werklik gedoen het, ons is die Limpopo ligawenners van 2025! Al ons harde werk het vrugte afgewerp en ons is nederig en dankbaar daarvoor. Ons het ‘n doel gehad en ons was bereid om alles te doen sodat ons daardie doel kan bereik. Ons span bly ‘n span en ons bly positief deur die hoog en die laag,” vertel Dawid.
Die o/14-span het dus deurgedring na die kwalifiserende rondes en het teen Hoërskool Riebeeckrand in Randfontein gespeel. Hulle verloor ongelukkig die wedstryd 24-13 en die speler van die wedstryd is Antoon du Plessis. Die o/15-span het teen Wolmaransstad te staan gekom en verloor ook hulle wedstryd.






