Klop-klop draf Karmien haar danseksamen kaf
Karmien Gilfillan sê die lekkerste deel van dans is om nuwe bewegings onder die knie te kry en sy weet sy het nog baie om te leer.
POLOKWANE – Karmien Gilfillan (10) kon dans voordat sy selfs kon loop en praat, en nuwe danspassies skrik haar nie af nie.
Sy het onlangs haar Association of International Dance Teachers (AIDT) klopdanseksamen met ‘n onderskeiding van 95% geslaag.
“Ek het ongeveer vier jaar gelede met klopdans begin omdat ek op soek was na ‘n nuwe uitdaging. Ek dans ook ballet, akrobaat en hip-hop. As ek moes kies, sou ek net ballet wou dans,” sê Karmien.

Frieda Lombaard van Frieda se Dansskool is vol lof vir Karmien.
“Sy het voor ‘n baie streng eksaminator, Margie Wells, gedans en ek is baie trots op haar. Sy werk hard en ek sien uit na wat ons nog gaan vermag,” sê sy.
Karmien sê die lekkerste deel van dans is om nuwe bewegings onder die knie te kry en sy weet sy het nog baie om te leer. Wanneer sy nie dans nie, speel sy klavier en kitaar, wat haar help om ritme vir klopdans te ontwikkel.
Karmien is tans ‘n gr. 4-leerder by Oosskool, waar sy ook skaak speel. Sy droom daarvan om eendag ‘n meganiese ingenieur te word of professioneel te dans.




