Local sport

Polokwane se Juan Janse van Vuuren in Bulle-presidentspan

Juan, wie se vriende hom "Badskuim" noem, sê Springbok Pieter-Steph du Toit is sy grootste inspirasie op die veld.

POLOKWANE – Verlede jaar hierdie tyd het Juan Janse van Vuuren nog in die skoolbanke gesit en vir Hoërskool Pietersburg se eerste rugbyspan uitgedraf. Vanjaar is hy deel van die Rugby Travel Academy nadat keurders sy talent tydens die Cravenweek raakgesien het.

Juan, wie se vriende hom ‘Badskuim’ noem, speel al sedert hy kan onthou rugby saam met sy pa op die gras by die huis.

Sy eerste wedstryd was toe hy o/6 was en Oosskool verteenwoordig het.

“My droom was van jongs af om rugby op ‘n hoë vlak te speel en myself voortdurend te verbeter. Hoe ouer ek geword het, hoe groter het my liefde vir die sport geword,” sê hy.

‘n Plek in die presidentspan

Juan is onlangs in die Blou Bulle se o/20-presidentspan opgeneem wat op 19 Junie teen Zimbabwe se o/20-span op die Hannes Fourie-sportgronde, die tuiste van die Naka Bulle Rugbyklub, uitgedraf het.

Juan Janse van Vuuren tydens die Cravenweek.

“Dit was vir my ‘n ongelooflike groot eer om vir hierdie span gekies te word. Ek kan nie my gevoel beskryf nie.

“Op daardie oomblik, toe ek hoor ek is in die span, was al die harde werk en vele opofferings die moeite werd. Ek is dankbaar vir die geleentheid.”

Waar dit alles begin het

Badskuim onthou ook sy eerste wedstryd vir Hoërskool Pietersburg goed.

“Ek was in die o/14B-span en het teen HTS Tom Naudé uitgedraf. Ek speel gewoonlik flank, maar is ook gemaklik op slot. Ek geniet hierdie posisies aangesien ek daarvan hou om fisiek te wees, hard te werk en by die afbreekpunte ‘n verskil te maak.”

Juan Janse van Vuuren tydens ‘n wedstryd vir Hoërskool Pietersburg.

Geen proewe, net dopgehou

Volgens Juan was daar nie proewe vir die presidentspan nie. Spelers word oor ‘n tydperk van ‘n paar maande by verskillende toernooie dopgehou.

Sy grootste ondersteuners

Hy sê sy ouers was nog altyd sy grootste ondersteuners.

“Hulle het my deur dik en dun aangemoedig en baie opofferings gemaak om my drome te ondersteun.

“Ek is ook dankbaar vir elke afrigter wat deel van my ontwikkeling was, veral die afrigters by PHS, Corstiaan Vermaak en Piet Bester, asook Hendrik Malan in die jonger spanne en die Rugby Travel Academy-afrigters, Len Olivier en Nico Pretorius. Elkeen het ‘n belangrike bydrae gelewer tot my groei as speler en as mens.”

Wat Badskuim laat tik

Badskuim beskou sy werkstempo en sy vermoë om nooit op te hou werk vir sy span nie, as sy grootste sterkpunte op die veld.

“Ek probeer altyd ‘n positiewe bydrae lewer, of dit nou in aanval of verdediging is. Soos enige ander speler moes ek teleurstellings en beserings hanteer, maar dit het my geleer dat deursettingsvermoë en dissipline net so belangrik is as talent.”

Sy groot voorbeeld

Hy sê Springbok Pieter-Steph du Toit is sy grootste inspirasie.

“Ek kyk op na Pieter-Steph du Toit. Hy inspireer my om harder te werk. My doel is om aan te hou ontwikkel, my beste rugby te speel en geleenthede op ‘n professionele vlak aan te gryp.

“Ek wil uiteindelik op die hoogste moontlike vlak speel en my land trots maak. Ek sal graag wil terugkyk na ‘n loopbaan waarin ek elke geleentheid ten volle benut het.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button