Ondersoek na rooibok by vulstasie in Mokopane geslag word
Werknemers beweer die dier is deur 'n vragmotor raakgery en die karkas daarna aan hulle oorhandig, maar die omstandighede word ondersoek.
MOKOPANE – Lede van die publiek het verlede Maandag alarm gemaak nadat ‘n rooibokkarkas deur werknemers van ‘n vulstasie op die perseel geslag en bewerk is.
Die voorval is by die Heritage Protection Group (HPG) aangemeld en ‘n ondersoek is geloods.
HPG se Hendrik Hattingh het bevestig dat werknemers wat by die voorval betrokke was ondervra is.
Volgens Hattingh het die werknemers beweer dat die rooibok deur ‘n vragmotor getref is, waarna die vragmotorbestuurder die karkas glo aan die petroljoggies gegee het.
Gegewe die omstandighede van die voorval, is dit aan die polisie vir verdere ondersoek oorgegee.
Hattingh het uitgewys dat die hantering, verwydering en die slag van wilde diere deur wetgewing en die Limpopo Omgewingsbestuurswet 7 van 2003 gereguleer word.
“Die wet reguleer onder andere die verwydering, die besit en hantering van wilde diere.
“Die nodige toestemming en dokumentasie moet in plek wees voordat enige karkas vervoer, verwyder of hanteer mag word,” sê Hattingh.
Hy het ook na Artikel 7 van die Wet op die Veiligheid van Vleis (40 van 2000) verwys, wat daarop aandring dat diere by geregistreerde abbatoirs geslag word, onderhewe aan enkele uitsonderings.
Hattingh het verder gewaarsku dat niemand outomaties die reg gegee word om diere wat doodgery is, se karkasse te verwyder, te slag of die vleis in besit te neem nie. “Die nodige toestemming en omstandighede moet eers in ag geneem word,” sê hy.
Hattingh het inwoners, wat die voorval gerapporteer het, bedank en hulle aangemoedig om sonder twyfel enige verdagte bedrywighede aan te meld.




