Johan (80) voltooi 500ste Parkrun in Polokwane
Johan van Graan het Saterdag geskiedenis gemaak as die eerste Polokwane-inwoner om 500 Parkruns te voltooi – gelykstaande aan 29 Comrades-marathonne.
POLOKWANE – Waar die meeste ander 80-jariges Saterdagoggende dalk nog inlê, trek Johan van Graan eerder sy tekkies aan en pak die 5km Parkrun-roete aan.
Dié afgelope Saterdag het Johan geskiedenis gemaak toe hy die eerste persoon in Polokwane geword het om 500 Parkruns te voltooi.
Die Parkrun is ‘n 5km-wedloop wat elke Saterdag in 26 lande wêreldwyd plaasvind. In Suid-Afrika alleen is daar 1.8 miljoen geregistreerde deelnemers.
“Ek is nou deel van die gesiene Blouklub by Parkrun. Daar is baie min, minder as 200 Parkrunners, wat op 80 met hierdie eer kan spog. Hierdie toekenning beteken ek het 2 500km afgelê, dieselfde afstand as 29 Comrades-marathonne.”
Johan het oor die jare sy merk as erkende atleet gemaak en het reeds 11 Comrades-marathonne agter die rug.
Hy was ook die eerste Polokwane-inwoner om die destydse Oos-Transvaal Wedloop, nou die Mpumalanga Miler, van 100 myl (160.9km) te voltooi.
Hy het verder drie marathonne binne 24 uur voltooi, in Middelburg, Ottosdal en Germiston. Sodra ‘n Parkrunner 30 verskillende Parkruns voltooi het, word hy of sy ‘n ‘toeris’ genoem.
In Polokwane is daar slegs drie ander mense wat hierdie titel verwerf het. Johan het egter reeds 122 verskillende Parkruns voltooi.
Hy het ook die Alfabet-uitdaging twee keer bykans voltooi, met net die letters ‘q’ en ‘y’ wat ontbreek, aangesien daar nie Parkruns in Suid-Afrika is met name wat met dié twee letters begin nie.
Deelnemers wat Parkruns by meer as 100 plekke voltooi het, word as Windgat beskou. Dit sluit ‘n Parkrun in al nege provinsies in. Johan het dié titel reeds twee jaar gelede verwerf.
Parkrun bestaan egter nie net uit deelnemers nie. Vrywilligers sorg elke Saterdag dat alles glad verloop. Johan het reeds 210 Saterdae by 14 verskillende plekke in 14 verskillende rolle as vrywilliger diens gedoen.
By Ivydale Parkrun het hy 44 keer deelgeneem en ook 44 keer as vrywilliger gehelp.
Johan is egter nog lank nie gereed om sy tekkies op te hang nie. Hy nooi lesers uit om Saterdagoggende by hom aan te sluit en self die Parkrun-ervaring te beleef.




