Oud-Piet Potgieter-leerder gekies vir SACD-hokkiespan
Ná 10 jaar by Limpopo se distrikspan en 'n jaar as spanbestuurder, het Chantel du Plessis vanjaar self as speler teen ander provinsies vir SACD gespeel.
MOKOPANE – Chantel du Plessis, oud-leerder van Hoërskool Piet Potgieter, het onlangs ‘n besondere hoogtepunt in haar hokkieloopbaan bereik toe sy as deel van die South African Country Districts (SACD) se IPT-hokkiespan gekies is, en onlangs in Witbank deelgeneem het.
Vir Du Plessis, wat reeds vir 10 jaar deel is van Limpopo se SACD-span en die afgelope agt jaar hokkie op dié vlak speel, is die geleentheid ‘n droom wat uiteindelik waar geword het.
Van spanbestuurder tot speler

Sy was reeds in 2024 betrokke by die SACD IPT-span, toe sy as spanbestuurder opgetree het tydens die IPT in Johannesburg.
Hierdie jaar het sy egter die geleentheid gekry om self as speler deel van die span te wees.
Du Plessis beskryf die prestasie as die “kersie op die koek” van ‘n lang loopbaan en jare se liefde vir die sport.
“Om te weet dat dit nie saak maak in watter fase van jou lewe jy is nie, drome kan nog waar word.”
Haar eerste keer met ‘n hokkiestok
Sy het eers op 14-jarige ouderdom met hokkie begin. Toe daar gevra is wie ‘n doelwagter wil wees, het sy haar hand opgesteek.
Sy het reeds vanaf o/15 op provinsiale vlak begin speel en daarna jaarliks deur die ouderdomsgroepe gevorder.
In haar o/16-jaar het sy onder die leiding van afrigter Elzette Bardenhorst gespeel, wat ‘n groot invloed op haar ontwikkeling as speler gehad het.
“Sy het my potensiaal raakgesien en my die beste gemaak wat ek kon wees.”
Ná skool het sy vir TUT gespeel, waarna sy sowat vyf jaar asemgeskep het. Sy het later met binnenshuise hokkie teruggekeer en by die Queens-klub in Polokwane aangesluit.
Daarna het sy drie jaar veldhokkie gespeel voordat sy weer na die doelwagterposisie teruggeskuif het weens gesondheidsredes.
Die oproep wat alles verander het

Die pad na haar SACD IPT-keuring was nie heeltemal eenvoudig nie. Ná die SACD-toernooi in George is die span vir die IPT aangekondig. Du Plessis is aanvanklik as ‘n nie-reisende reserwe gekies.
Twee weke voor die toernooi het hulle haar gekontak en gesê sy moet haar tasse pak, dit is tyd.
Die SACD IPT-span bring spelers uit verskillende distrikte bymekaar en bied aan hulle die geleentheid om op ‘n hoë vlak teen ander provinsiale spanne mee te ding.
Spanwerk bo alles

Haar sterkste eienskap as speler is haar bereidwilligheid om altyd haar beste vir die span te gee en tot die eindfluitjie aan te hou.
Kommunikasie is ook een van haar sterk punte, asook spanwerk wat egter die belangrikste bestanddeel vir sukses is.
“Sonder spanwerk kan jy vergeet van wen. Jy kan die hele Springbokspan hê, maar as hulle nie as ‘n span saam kan speel nie, beteken hulle niks. ‘There is no ‘I’ in team’.”
Haar boodskap aan jong meisies wat daarvan droom om eendag op die hoogste vlak hokkie te speel, is eenvoudig: moenie opgee nie, hou net aan.
“Maak seker jy is verantwoordelik vir jou eie verbetering, niemand gaan dit vir jou doen nie.”
Vir Du Plessis is haar SACD IPT-keuring veel meer as net nog ‘n prestasie op haar sport-CV. Dit is ‘n bewys dat harde werk, deursettingsvermoë en ‘n liefde vir die sport op enige ouderdom tot nuwe hoogtes kan lei.




