Jong Polokwane-bokser maak sy debuut in die kryt
CJ Jacobs (17) droom daarvan om Suid-Afrika te verteenwoordig, en sy eerste toernooi het hom lus gemaak om meer gereeld aan ander toernooie deel te neem.
POLOKWANE – CJ Jacobs (17) het reeds in gr. 8 begin boks nadat hy aan homself wou bewys waartoe hy in staat is.
“Boks is ‘n eenmansport, iets waarvan ek baie hou. Ek het op 5 September by die Universiteit van Limpopo aan my eerste kompetisie, die ULBC Developmental Tournament, deelgeneem.”
Afrigters wat hom aanmoedig
CJ is ‘n lid van Lynx Boxing Gym, waar Mario Snyman en Ashley Ndhlovu sy afrigters is. Hy erken dat hy dit geniet om elke week te sien hoe sy tegnieke verbeter, veral wanneer hy teen ‘n ander bokser oefen.
“Voor die toernooi het ek elke dag van 15:00-19:00 geoefen en nie een dag afgevat nie. Wanneer dinge tydens oefening moeilik raak, word ek gevra hoe belangrik die wentitel vir my is, en my afrigters druk my om aan te hou.
“Ek was baie opgewonde oor die toernooi. Die laaste drie dae voor die toernooi was vol spanning, maar die oomblik toe ek my oë op my teenstander gelê het, het al die spanning verdwyn.”
Senuwees, stamina en ‘n gebed
CJ sê die opwindendste deel van die toernooi was toe hy met die trappe opgeloop het om in die kryt te klim. Die oomblik wat vir hom uitgestaan het, was toe hy sy opponent drie keer teen die toue vasgedruk en sy lyf en kop aangeval het.
“Die grootste uitdaging wat ek in die ring moes hanteer, was om my stamina te spaar en nie te veel te vinnig te doen nie.
“Om my senuwees te laat bedaar, het ek gebid en vir God gevra om saam met my in die kryt te wees. Die geveg het my geleer dat ‘n 10 oz-handskoen nie so seer maak nie.”
Trots en respek vir sy teenstander
Hy sê hy is besonder trots daarop dat hy onder druk die tegnieke wat hy tydens oefening geleer het, kon toepas. Ná die geveg het hy trots gevoel omdat hy homself kon bewys.
“Ek het heel eerste dankie gesê aan my familie en afrigters wat in my geglo het. Nog iets wat ek geleer het, was om altyd my opponent te respekteer.
Groot drome
“Hierdie ervaring het my lus gemaak om meer gereeld aan ander toernooie deel te neem en om nie sommer op te hou oefen nie. Ek droom daarvan om Suid-Afrika in die kryt te verteenwoordig.”
CJ sê hy gaan hom nou daarop toespits om sy stamina te verbeter.




