Lesers geniet hul vakansieboeke
Dis weer vakansietyd en Review het met Magriet Lotz, senior bibliotekaris van die Polokwane stadsbiblioteek, gaan gesels.
POLOKWANE – Dis weer vakansietyd en Review het met Magriet Lotz, senior bibliotekaris van die Polokwane stadsbiblioteek, gaan gesels.
“Ons staatmakerlesers ondersteun ons nog,” vertel sy. “Die oggende is nou, in die skoolvakansie, besig aangesien ma’s hulle kinders bring om boeke te kom uitneem.” Sy vertel ook dat die studieafdeling nou stiller is aangesien die eksamens verby is.
Volgens Lotz is die mees gewilde boeke Afrikaanse fiksie en die meerderheid lesers Afrikaanse volwassenes. “Gedurende die vakansie word die leentydperk van boeke ook verleng, sodat mense wat weggaan boeke kan saamneem met vakansie.”
Aangesien die biblioteek ‘n beperkte begroting het, koop hulle boeke aan soos hulle geld kry.
Om lid te word van die biblioteek moet inwoners ‘n munisipale rekening toon. Indien iemand nie ‘n rekening het nie, betaal die persoon ‘n R128 deposito. Volwassenes se ledegeld beloop R64 en kinders se ledegeld R32 per jaar. Pensionarisse kan gratis aansluit, maar hulle betaal wel deposito of moet ‘n munisipale rekening wys.
Die vakansie-biblioteekure is van 09:00 tot 17:00 tot 10 Januarie. Die biblioteek is geleë in Hans van Rensburgstraat in die Library Gardens.



