Leeftyd se kennis lei tot wysheid
Met 83 jare se evaring en kennis, het Betsie Stander beslis 'n skatkis van wysheid om met ander te deel.
POLOKWANE – Met 83 jare se evaring en kennis, het Betsie Stander beslis ‘n skatkis van wysheid om met ander te deel.
Betsie is ‘n inwoner van Vergeet-My-Nie woonstelle by Martha Hofmeyer Tehuis. Sy is die tehuis se bibliotekaresse en leer al die inwoners ken wanneer hulle kom boeke uitneem. “Ek hou myself ook besig met besoeke aan ander inwoners,” vertel sy.
Sy is in Johannesburg gebore en vertel haar pa het vir die destydse spoorweë gewerk. Die gesin het dus baie rondgetrek. “In die laerskool was ek in ‘n plaasskool en ek moes baie ver loop om by die skool te kom. Ons was arm en ek het kaalvoet skooltoe gegaan. Ons kinderjare was anders as vandag. Dit was veiliger en ons het baie gespeel. Vandag se kinders speel nie meer nie,” sê sy.
Betsie vertel haar pa is dood toe sy 19 jaar oud was. Later is sy na ‘n handelskool in Johannesburg.
“Een dag wat ek nooit sal vergeet nie, is my 15de verjaardag. Ek het met die trein skool toe gery en was by die skool toe die nuus dat die Tweede Wêreldoorlog verby is, gekom het. Dit was ‘n vreeslike gedoente by die skool.”
Betsie sê sy wou ‘n onderwyser word, maar as gevolg aan ‘n gebrek aan geld moes sy dadelik na skool gaan werk. Haar eerste werk was as tikster by die welsyn nadat die skool haar daar geplaas.
Sy vertel dat sy in 1955 met Nico Stander in Johannesburg getroud is. Hulle het drie kinders, twee dogters en ‘n seun, gehad. Haar seun en oudste dogter bly in Polokwane terwyl haar ander dogter in Pretoria bly. “Ek het vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders. Die vyfde agterkleinkind is op pad,” vertel sy.
Nog ‘n ervaring wat sy nooit sal vergeet nie, is toe die Oceanos op 4 Augustus in 1991 gesink het.
“Ek en ‘n vriendin was saam met vakansie op die skip toe dit op die aand net voor ons die laaste keer moes vasmeer gesink het. Ek kan die angs wat ek beleef het nie beskryf nie. Dit was vreeslik. Hulle het ons van die sinkende skip gered.”
Sy wil graag onthou word as iemand wat lief is vir ander mense en vertel sy hou vreeslik baie van mense en om hulle om haar te hê.
“Ek is die trotste op my drie kinders. Hulle vaar goed in die lewe en ek het my nog nooit oor hulle bekommer nie. Hulle is lief vir my en respekteer my,” vertel sy.



