Kleuters gesels oor die son se strale
Januarie is Sonslim Maand en met die warm somersdae wat Polokwane hierdie tyd van die jaar ervaar, het Review met die kleuters van Suikerbekkie Kleuterskool gaan gesels om te hoor wat hulle alles van ons naaste ster weet.
POLOKWANE – Januarie is Sonslim Maand en met die warm somersdae wat Polokwane hierdie tyd van die jaar ervaar, het Review met die kleuters van Suikerbekkie Kleuterskool gaan gesels om te hoor wat hulle alles van ons naaste ster weet.
Die kleuters het verduidelik waarom hulle sonskerm moet aansmeer, waarom die son so gevaarlik is en hoekom mens nie direk in die son mag kyk nie.
“Ons moet room aansmeer, want die son gaan ons brand oor ons velle sag is,” het klein Laila Eagar vertel. Sy het ook vertel dat die son gevaarlik is omdat hy so warm is, “as jy in hom kyk gaan hy jou oë brand.”
“Die son gaan jou brand, want hy is ‘n sonbom en hy is gemaak van vuur,” het Heinrich Meyer gesê. Volgens hom sal mens blind word as jy vir die son kyk.
Schalk Eagar het vertel sy ma smeer sonblok op sy gesig en sy hele lyf as hy swem sodat hy nie kan brand nie. Hy moet ook ‘n hoed opsit en ‘n sonbril dra as hy vir die son wil kyk. “Die son is van vuur gemaak en baie gevaarlik, maar daar bly ‘n mannetjie in die maan en hy sal jou oppas.”
“My velletjie is baie dun, so mamma moet room aansmeer,” het Bianca Keams verduidelik. “Die son is warm omdat hy van vuur gemaak is en dan brand hy mense.” Bianca glo ook mens kan nie vir die son kyk as jy nie ‘n sonbril op het nie.
“As jy nie roompies opsit nie, gaan die son jou brand en dan is dit baie warm,” was Tanya Ras se opinie. Sy het vertel dat die son van vuur gemaak is en dat sy ‘n sonbril moet dra as sy in hom kyk.
Anzé Esterhuizen weet haar ma smeer sonblok aan haar gesig sodat die son haar nie kan seermaak nie. “Die son is baie gevaarlik, want hy is heeltyd aan die brand met vuur,” het sy gesê. Sy het vertel sy kan ook nie in die son kyk nie, want dit brand haar oë.
“Ek moet sonroom smeer sodat die son nie my wangetjie brand nie,” het Clarette du Plessis gesê. “Die son is gevaarlik want hy maak skyn. As jy in hom kyk gaan hy jou ogies seermaak,” het sy gesê.
Elné Bosch het ook teen die son se gevaarlike strale gewaarsku. “Die son gaan jou brand, want hy het vuur aan hom. Sit jou bril op voor jy vir hom kyk.”



