Radiomense kom kuier
Plaaslike inwoners is verlede week getrakteer toe hulle gunsteling Jacaranda-name 'n draai in die stad gemaak het tydens dié stasie se Love Tour in Limpopo.
POLOKWANE – Plaaslike inwoners is verlede week getrakteer toe hulle gunsteling Jacaranda-name ‘n draai in die stad gemaak het tydens dié stasie se Love Tour in Limpopo.
Rian van Heerden se Complimentary Breakfast Show en die Martin Bester Drive is regstreeks vanaf Mall of the North uit die stad uitgesaai.
Review het met Van Heerden en ander lede van die geselskap bymekaargekom om meer oor hul ervaring van die provinsie en mense te hore te kom.
“Die plek is wonderlik. Ek was al in Mookgophong vir kampe, maar dis die eerste keer wat ek die agterpaaie omry.
“Die mense hier is wonderlike, gasvrye, vriendelike en regtig innemende mense,” het Van Heerden gesê.
Ook Robby Kruse kon nie uitgepraat raak oor die vriendelikheid van die mense nie.
Van Heerden sê radiowerk hou hom deesdae so besig dat hy nie meer eenmanvertonings hou nie.
“Ek mis dit. As ek eendag klaar is by Jacaranda sal ek dit weer doen, maar nou het ek dood eenvoudig nie die tyd daarvoor nie.”
Hy vertel ook dat die toer baie opwindend was en dat dit opmaak vir al die moegheid.
Die toer het met ‘n gesellige aand by Fusion Boutique Hotel geëindig waar omroepers Van Heerden, Bester, Kruse, Dianne Broodryk, Thabiso Khambule, Maljan, en Barney Simon nog plaaslike mense ontmoet het.
Die span het ook Vrydagaand by Fusion Boutique Hotel oornag en inwoners kon nie uitgepraat raak oor al die gesellighede van die aand nie.
Simon en DJ Tazz het veral gesorg dat die dansvloer baie gewild was.



