EntertainmentLifestyle

Kom geniet skietdag saam met BJV

WAT doen jy en jou gesin Saterdag? As julle nog nie by so 'n geleentheid was nie, kom kyk gerus wat gebeur alles by die skietbaan.

WAT doen jy en jou gesin Saterdag? As julle nog nie by so ‘n geleentheid was nie, kom kyk gerus wat gebeur alles by die skietbaan.

Dit is pret vir pa, ma, boeta en sussie, en iets wat maklik ‘n liefde en ‘n passie kan word vir al die regte redes. Die Bosveld Jagters en Wildbewaringsvereniging (BJV) bied op Saterdag 15 Maart sy jaarlikse PMP ammunisie groeperingskiet-streekkompetisie in Polokwane by die skietbaan op die Siliconpad aan. Dit beteken in gewone taal dat jy moet probeer om ‘n sekere aantal skote so naby aan mekaar as moontlik op ‘n teiken te laat eindig. Die groepering hoef nie eers noodwendig in die middel van die teiken te wees nie, net bymekaar. Jy hoef ook nie ‘n ervare of goeie skut te wees om dit te kan geniet nie. Daar is groot pryse te wen vir mans, vroue en kinders onder 16 jaar. Waar teikenskiet lank terug hoofsaaklik ‘n manlike oftewel ‘n pa en seun affêre was, is daar nou baie ma’s en dogters wat die mans uitstof en baie lief is vir die sport.

Toegang tot die terrein is gratis, elke deelnemer betaal slegs R60 per teiken wat ammunisie van PMP insluit. Jy neem deel met jou eie wapen maar jy moet PMP ammunisie gebruik. Die kompetisie word op 100 meter geskiet met dooierus op ‘n skiettafel, want dit is die vraag wat die meeste vra.

Vir enige navrae oor watter kalibers mee deelgeneem mag word en die fynere punte oor die reëls vir die dag, kontak gerus vir Rudi Myburgh by 076 869 7111.

Al het jy nie jou eie geweer nie, kan jy kom ervaar hoe dit voel om met ‘n Blaser-geweer te skiet. Dié gewere word verskaf en daar hoef net vir die ammunisie betaal te word. Vir iemand wat nog nie hierdie geleentheid gehad het nie, sal dit beslis ‘n spesiale ervaring wees, en daar sal ervare manne beskikbaar wees om te help en raad te gee. BJV sal ook sorg vir ‘n haelgeweer as jy nie jou eie het nie waarmee daar kleiduif geskiet kan word. Iemand wat dit nog nie aangedurf het nie, weet nie wat hulle mis nie.

Dié geweer se gebruik is ook gratis, en daar hoef net vir die ammunisie en kleie betaal te word. Limpopo Toyota sal ook ‘n uitstalling van hul nuutste rygoed daar hê en sal ‘n gratis worsrolletjie aan elke deelnemer voorsien. Koeldrank, kos en ander verversings sal ook te koop aangebied word. Inskrywings kan op die dag vanaf 06:30 gedoen word.

Die eerste groep skuts sal vanaf 07:30 begin skiet. Die aksie behoort by 15:00 afgehandel te wees.

Saterdag is ‘n baie lekker karnaval, met ‘n bietjie lawaai natuurlik, wat die hele gesin kan kom geniet en u is genooi. Kom ervaar dit saam met BJV in Polokwane.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button