Sy doen meer as liedjies sing en hande klap
Sandra de Lange is bekend in die stad as almal se gunsteling musiektannie.
POLOKWANE – Sandra de Lange is bekend in die stad as almal se gunsteling musiektannie.
Sandra besoek daagliks verskeie skole en kleuterskole en bied daar spesiaal uitgewerkte musiekklasse vir leerders aan.
“My werk behels meer as net liedjies sing. Ek werk elke les uit volgens ‘n tema. Deur hierdie musieklesse stimuleer ek die kleuters op kognitiewe vlak. Ook help die musieklesse hulle taal, emosionele, sosiale en motoriese ontwikkeling. Dan kom die ritme van die musiek ook nog by. Ons werk met klankkleur, instrumentale spel asook beweging op maat van die musiek,” vertel sy.
Hierdie musiektannie is in Pretoria gebore en het haar skoolloopbaan daar voltooi.
Sy vertel sy was van kleins af lief vir musiek en dat sy altyd gesing het. “Musiek is deel van ons familie. My ma speel orrel en my tannie het opera gesing,” verduidelik sy.
Na skool is sy na Tukkies waar sy verbruikersstudies studeer het. Hier het sy vir vyf jaar onder leiding van professor Petro Gräbe in die universiteitskoor gesing. Sy het ook in hierdie tyd Unisa klaviereksamens gespeel.
“Musiek was toe net ‘n stokperdjie vir my. Ek het as voedingkundige by nasionale gesondheid gewerk en het ook by Hoërskool Pietersburg gasvryheidstudies aangebied.”
Ongeveer nege jaar gelede het sy besluit om voltyds musiek vir kinders te aan te bied aangesien haar werkure dan beter sou wees vir haar eie kinders se onthalwe. “Voor dit moes ek dikwels in die aande werk en dit was moeilik vir die kinders. Toe begin ek musiek gee en kon ek in die aande by die huis by my kinders wees,” sê sy.
Sandra is in 1994 met Dirk getroud en saam het hulle twee kinders, Stephan (12) en Marisa (14). Beide hul kinders is ook aangelê vir musiek.
“Stephan speel viool en Marisa speel cello,” vertel sy trots.
Self speel Sandra perkusie-instrumente, die dwarsfluit, blokfluit en klavier.
“Die moeilikste instrument om te bespeel is die een waarvoor jy geen aanleg het nie.
“Die makliste om te leer speel is die een waarvoor jy lief is en ‘n aanleg het,” is haar opinie.
Sandra vertel dat haar ouers die grootste invloed op haar gehad het in haar vormingsjare.
“Hulle was net altyd daar vir my. Hulle het my geleer wat ek weet.”
Sy glo dat alles wat sy het en wat sy bereik het net genade van bo is.



