Motorfietsryers kuier saam by Soetdorings
DIE geur van vleis wat braai en die klank van mense wat lag het die lug gevul by die Limpopo Biker Council (LBC) se tweede familiesaamtrek by die Soetdorings Buiteklub oor die langnaweek.
DIE geur van vleis wat braai en die klank van mense wat lag het die lug gevul by die Limpopo Biker Council (LBC) se tweede familiesaamtrek by die Soetdorings Buiteklub oor die langnaweek.
Vrydag het die motor-fietsryers die dag spandeer deur net lekker saam te kuier en weer al die nuus te hoor.
Saterdag was ‘n dag gevul met pret en plesier toe deelnemers laat waai het en gekompeteer het in verskeie speletjies. Die LBC se kwartaalvergadering is ook Saterdag gehou.
Jaco Taylor het gesorg dat die musiek reg deur die naweek speel en die seremoniemeester was Richard van Balkom van Bikers That Care.
Een van die speletjies wat groot aftrek gekry het, was die slow race waar deelne-mers gekyk het wie die stadigste op hul motorfietse kon ry sonder om om te val.
Bandgooi, toutrek, bokdrolspoeg en eier-en-lepel wedrenne het gesorg vir groot vermaak vir oud en jonk.
Verskeie kosstalletjies het gesorg dat almal se mae vol bly deur die naweek.
Sondag het die motorfiets-entoesiaste bymekaargekom vir ‘n kerkdiens gelei deur Pastoor Jannie Calitz. Richard van der Westhuizen het die sang behartig en daarna het almal saam geëet voor hul huiswaarts gekeer het.



